Posted on 22 August 2010

Wellington se dames het meer gehoor van ‘n onderwerp wat letterlik en figuurlik na aan elke vrou se hart lê, naamlik die bra.  Die twee sprekers was Valerie en Portia van Triumph.  Ons het geleer hoe om ‘n bra te kies, sowel as die versorging daarvan.

 

Dit is die belangrikste kledingstuk in ‘n vrou se kas, want dit ondersteun die borste en sorg vir ‘n mooi voorkoms.  Vir sport wat nie te veel beweging van die liggaam vra nie, is daar ‘n bra wat matige ondersteuning gee. Vir sportsoorte waarmee die deelnemer baie moet spring en beweeg, is die ferm bra die beste keuse.  Vir die voller figuur is daar ‘n goeie verskeidenheid om van te kies. Die jonger meisie kan wegkom met dun bandjies, maar hoe groter die borste, hoe breër moet die bandjies wees.

 

Die versorging is baie belangrik. Warm water en versagmiddels is beslis nie goed vir diè spesifieke kledingstuk nie. Dit maak die materiaal pap.  Die groen koekie Sunlightseep is die beste om te gebruik en sorg ook wonderlik vir die hande.  ‘n Bra wat draad in het, moet egter nie geweek word nie, dit sal roes, deur die matetiaal begin steek en seermaak.  Sonlig is ook skadelik vir die ou stukkie lap, kant en rek.

 

Dalk, net dalkies, huur ons tak ‘n bus en ry na die Strand waar die spesifieke winkel en die kundige twee sprekers is, dan koop ons elkeen ‘n paar goeie bra’s, sodat ons rondborstig kan vergadering hou en elkeen ‘n hupstoot in ons selfvertroue kan kry. 

Petro Greeff

 

 

 

 

 

Comments are closed