Posted on
27 August 2010
VLV-lede en gaste kon met die Augustus-vergadering van die VLV-tak van Villiersdorp met twee baie interessante handvaardighede kennismaak.
Romilly Neil, “that friendly Irish woman”, het demonstreer hoe sy op glas verf. Sy verf verkieslik op enige wit oppervlakte wat geglasuur is: bekers, borde, teëls, ens. ‘n Verskeidenheid kleure is in poeiervorm verkrygbaar en slegs ‘n mespunt word op ‘n slag met ‘n kleefmiddel en water op ‘n glaspalet vermeng. Met ‘n verftegniek soos Japanese verfwerk wat net uit ligte hale bestaan word die prentjie met Chinese bamboeskwassies met natuurlike haar, opgeverf. Dan pak Romilly die klaargeverfde artikels in ‘n klein hoogoond(kiln) waar dit vir drie uur teen 800 C gebak word. Dan koel dit vir tien uur af waarna die oond eers oopgemaak mag word. Nadat die artikels gevuur is, lyk die kleure weer soos toe die verf nat was.
Daarna het Suzette van Rooyen van Caledon demonstreer hoe om die baie gewilde tegniek van teesakkie-vou te bemeester. Goed voorberei kon sy vir belangstellendes elkeen agt stukkies papier gee wat sy vooraf in vierkantjies geknip het. Nog vorms wat gebruik kan word, is driehoeke, vlieërvorms en diamante. Nadat die papiervorms gevou is, word dit uitgelê en met ‘n klein metaal”stud” aanmekaar gesit. Dit word dan baie doeltreffend gebruik om handgemaakte kaartjies, geskenksakkies, ens te versier. Net die soort vaardigheid vir die vrou wat haar persoonlike stempel wil afdruk.

Romilly verf die fynste donsveertjies op ‘n teël

Romilly Neil(heel links) saam met Issie van Deventer, Dileanna Cronjé en Antoinette Stoutesdÿk by die pragtige uitstalling van haar werk.

Suzette van Rooyen(regs) besig om vir Johanni Barnard, Jean van Coppenhagen, Emily Klink en Elsabé Stemmet die fynere kuns van teesakkie-vou te verduidelik.