Posted on 30 August 2010

Die geskrewe woord: Gesing, gedig, gerym, gepraat
 

Die Kunste en Handvlyt vergadering was 'n heerlike oggend en almal wat die vergadering bygewoon het, het dit terdeë geniet!  Die tafels was gedek in wit en swart en musieknote het die tema orals uitgebeeld.  Die Sameroeper, Hennah Greeff, en haar groep was ook almal geklee in wit en swart.
 

Sarie Koegelenberg het die voorlesinge gedoen uit van haar boeke wat sy geskryf het oor die Sandveld en sy mense.  Al die pittighede wat sy neergepen het, het groot byval gevind by die lede.  Elna du Toit van Dwarskersbos het 'n paar pragtige "golden oldies" gesing en o.a. ook een van Sarie se gedigte wat sy getoonset het.  Een van ons lede , Elma Oberholzer het haar storie oor die Moderne Rooikappie en Liewe Heksie voorgelees.  Almal het dit baie geniet.  Die wolf het ouma se "skipants" aangehad en Liewe Heksie het hard op haar vuvuzela geblaas.  Heleen Eigelaar het ook 'n voorlesing gedoen oor die "Moderne Ouma"  Dié twee lede het beslis talent!
 

By hierdie vergadering het ons 43 kompetisie inskrywings gehad!  'n Rekord vir Langebaan.  Die twee beoordelaars moes bontstaan om al die inskrywings te beoordeel.  Ons het ook tydens die vergadering ons 81ste lid bygekry.
 

Tydens die vergadering is 'n kombersie aan Cora du Toit oorhandig.  Sy mis nooit 'n vergadering nie, al is sy nie baie gesond nie.  Sy sê dis vir haar die hoogtepunt van die maand om VLV toe te kom.  Die lede het ywerig deelgeneem aan die breiprojek en 'n groot aantal blokkies is gebrei.  Ongeveer 25 kombersies is uitgedeel in die gemeenskap.
 

 

Christa Steyn, Saamroeper van Gesondheid oorhandig die kombersie aan Cora du Toit.

 

 

 

Die voorsitterstafel, pragtig versier om by die tema te pas.

 

 

 

Henna Greeff, Saamroeper van Kunste en Handvlyt stel die sprekers aan ons voor.  Van links na regs verskyn op die foto:  Heleen Eigelaar, Elma Oberholzer,  Elna du Toit en Sarie Koegelenberg.

 

 

 

Die Kunste en Handvlyt groep.

 

Comments are closed