Posted on 06 September 2010

 

Kleinmond tak het tydens die Augustus vergadering met hierdie baie belangrike en interessante, maar miskende, voorbeeld van vroeë Suid-Afrikaanse kinderlektuur kennis gemaak.

 

Me Sigi Howes, Hoof van die Sentrum vir Bewaringsopvoeding (wat ook die Onderwysmuseum insluit) in Wynberg, Kaapstad, het haar navorsingsresultate oor die dagboek wat deur die jong  Iris Vaughan (1890 – 1977) vanaf  7-13 jarige ouderdom gehou is, met die groot gehoor gedeel. 

 

Daar is egter bitter min inligting oor Iris in enige van die Suid-Afrikaanse letterkundige beskrywings. Slegs in die National English Literary Museum in Grahamstad is daar ‘n paar briewe en geskrifte. Die eerste uittreksels uit die dagboek is eers in 1949 in die Adelaide Free Press gepubliseer as ‘n reeks artikels getiteld  “I turned back the Leaves of the Years in Adelaide”. Dit is in 1958 vir die eerste keer deur CNA in boekvorm uitgegee.

 

Iris Vaughan se pa, Cecil Vaughan, was rondom die 1900’s ‘n magistraat in die Oos-Kaap. Die familie het o.a. op Cradock, Maraisburg (tans Hofmeyr), Adelaide en Fort Beaufort gewoon. Haar pa het haar aangemoedig om ‘n dagboek te begin om daaglikse gebeure uit haar perspektief neer te skryf – “to tell the truth and nothing but the truth, so help me God” – want grootmense en kinders se waarhede verskil soms!

 

Met ‘n verbasende taalvaardigheid en beskrywingsvermoë gee sy in kleurryke taal lewe aan sowat 215 karakters. Haar geliefde “Pops” (haar pa wat hom in sterk gekruide taal uitdruk), “Mr Goldi” oftewel Nathan Hirsch Goldschmidt, die Algemene Handelaar op Adelaide, “George” (Robert Mateza), die tolk in die hof op Hofmeyr wat  as gekwalifiseerde onderwyser van die Clarkebury Sendingskool vir haar en haar broer tydens die ABO-jare tuis in Wiskunde en Engels onderrig het en “Mr. Dominy” ( ds. Van Wyk van die N.G.Kerk) is maar ‘n paar van die karakters wat die leser in haar boek ontmoet.  Voorlesinge uit die dagboek deur Sigi Howes was kostelik selfverduidelikend!

 

Sigi Howes en Nicoleen Hoal, haar assistent, het tydens die navorsingsprojek Iris se dagboekbeskrywings van persone, plekke en gebeurtenisse gaan toets deur al die plekke in die Oos-Kaap te besoek, onderhoude met oorlewende familielede te voer en inligting in talle argiewe na te vors. 200 van die 215 persone wat Iris beskryf, is reeds geïdentifiseer. Verbasende ooreenstemming is ook gevind tussen Iris se beskrywings van bv. die hoeksteenlegging van die Queen’s Hospital in Cradock in 1897 en foto’s wat van die geleentheid geneem is. Ook haar beskrywings van die ABO, die Boere-Rebelle se invalle en haar pa se lidmaatskap van die Town Guard kan gestaaf word.

 

Tydens die oorlog verhuis hulle na Adelaide, waar die biblioteek ‘n groot indruk op die begaafde kind maak, ‘n vreugde wat sy met “Mr Goldi” deel. Daarna verhuis hulle na Fort Beaufort. Daar gaan sy skool saam met Leslie Niland, seun van die ryk beesboer Eddie Niland. Volgens die dagboek irriteer hy haar grensloos, maar na haar studie (sy volg die Intermediêre kursus met o.a. Wiskunde, Fisika, Geskiedenis, Hollands en Engels) aan die Rhodes Universiteit in Grahamstad, trou sy in 1914 met hom en word ‘n boervrou.

 

In die Fort Beaufort Country Club staan die pragtige silwer Vaughan-beker vir krieket wat deur haar pa geskenk is, vandag nog. En by die ou Drostdy is nog kindergraffiti te sien as stille getuienis van Sondagmiddag-kattekwaad.

 

Berig deur Hermien van Zyl.

 

Comments are closed