Posted on 08 September 2010

Toe Francis van der Merwe ‘n paar mense soek om die myntoer die moeite werd te maak, was die VLV lede van Kuruman dadelik geïnteresseerd. Ons was altesaam 15 wat die daguitstappie vanaf Kuruman meegemaak het.

 

Francis en Sarel van der Merwe het besoekers van Zimbabwe op hierdie opvoedkundige uitstappie geneem.  Norman  Monks is die parkhoof van die suidelike streek in Zimbabwe se Gonarezhou Nasionale Park. Sy vrou,  Nyasha, is ’n mediese dokter wat reeds ’n geruime tyd op ’n aflosbasis by die VN troepe in Darfur gewerk het. Sy het maar verlede Woensdag uit Nigerië geland waar sy werksaam is by ‘n  maatskappy wat mediese personeel plaas, nie alleen in Afrika nie, maar wêreldwyd. Norman en Nyashale was stomgeslaan oor die omvang en aktiwiteite by die oopgroef myn.

 

Almal het aandagtig geluister na  Mnr Charel Valentin, ’n afgetrede kommunikasiebestuurder wat op ’n kontrakbasis as toergids van die myn optree. Na 20 jaar is daar seker nie vir hom enige geheime nie en hy het ons behoorlik om geboul met sy kennis van al die mynbedrywighede. Om daar by die eerste uitkykpunt te staan en te sien hoe vêr en groot die myn strek, en wat in die nabye toekoms beplan word, is iets wat met almal gedeel moet word.

 

Ons was ook besonder gelukkig toe daar onverwags geskiet word. Dit was gelukkig ’n windvrye dag en die pienk en bruin skakerings stof wat uit die aarde geborrel het, het vir lank soos ‘n wafferse stofskildery in die lug bly talm.

 

Mnr Valentin het elke voertuig se werking verduidelik en ons kon sien hoe twee plofstofdraers ry na die bore waar nuwe gate vir skiet voorberei word. Ons kon ook sien hoe verskillende vragwaens hul vrag kry, hoe die vragte se voorkoms verskil, afhangend van waar dit gemyn is, en hoe dit dan later weer reggestel word met vermenging, sodat die ertssamestelling aan die standaarde voldoen. Dit is toe nie net vir uithaal en wegry nie!

 

By die tweede uitkykpunt kon ons die finale stappe sien en ook hoe die trein met sy meer as 300 waens staan en wag om na Saldanha te vertrek, drie keer elke 24 uur! Wat my die meeste beïndruk het is hoe seepglad die hele proses verloop. Ons in die Noord-Kaap kan met reg trots wees op hierdie myn wat wêreldklas is, soveel werkgeleenthede bied en so wonderlik produseer en presteer.

 

Bydrae deur Petro Spangenberg

 

Norman en Nyasha Monks van Zimbabwe het tydens hul besoek aan Sarel en Francis van der Merwe van Kuruman, 'n uitstappie na die Sishen myn meegemaak.

  

 

 

Mes Marelie Keuler, Francis van der Merwe, Elsie Olivier en Sonette Strydom tydens hul besoek aan die myn. Marelie Keuler is die saamroeper van Land- en tuinbou studierigting en ondervoorsitter van Kuruman se VLV tak.

 

 

 

 

Oomblikke nadat twee beheerde ontploffings plaasgevind het om ysterdraende erts los te skiet. Ystererts word drie keer daagliks met 342 treintrokke na Saldanhabaai vervoer.

 

 

Comments are closed