Posted on 16 September 2010

Wêreldbekersokkertoernooi 2010 ...   Ses jaar in die toekoms - en toe skielik is alles verby.   Maar die gees van opwinding en vreugde, die opgewondenheid oor die wêreld in ons land, die mengelmoes van landsvlae, die gezoem van vuvuzelas en die deel wees van 'n eens-in-'n-leeftyd ervaring, gaan ons vir altyd koester.
 

Om vir oulaas dié sokkervreugde te ervaar, was VLV Graafwater onlangs op 'n "sokker-safari-ete" in "Duitsland, Spanje en Nederland" - die 3 lande wat onderskeidelik 3e, 1e en 2e in die toernooi geëindig het.  


 

Lede, hul mans en kinders het heerlike Duitse worsies, mosterdsous en pretzels as voorgereg in "Duitsland" (die plaas Rustig van Johann en Marcia de Jongh) geniet nadat die voorsitter, Elize Koortzen, mooi herinneringe aan 'n maand toe almal net sokker gekyk, geleef, gepraat en geniet het, opgeroep het.  T-hemde van gunsteling lande is gedra, motorspieëltjies is met vlagsokkies getooi en landsvlae met trots gewaai.
 

Die hoofgereg, 'n maalvleisdis en gevlegte brode,  is in "Spanje" (op die plaas Heerenlogement by Gert en Steffie Maree) geniet.    Die laaste bestemming was "Nederland" (Dagbreek, die plaas van Koos en Tertia van Zyl) waar heerlike stroopwafels en appeltert met room geniet is.
 

Met die blaas van die laaste vuvuzela was almal dit eens - ons kon trots wees - TROTS SUID-AFRIKAANS, want Suid-Afrika het vir die wêreld gewys ons kon die grootste sporttoernooi in die heelal met sukses aanbied.   En VLVK was indirek deel daarvan...   

 

        

 

 

 

 

Comments are closed