Posted on
19 September 2010
Dis Woensdag, dis die 1ste September, dis lente en Britstown VLV is gereed om te trek. Na ‘n volle jaar van afwagting gebeur dit uiteindelik, ONS GAAN TOER. 09h00 die oggend is twee voertuie, elk met 4 insittendes, daar weg op hul verkenningstog.
Eerste stop; Laslappie te Philipstown, dis die hartjie van die Quilters in SA. Ons word hartlik ontvang deur Nelmarie en haar span en aan Laslappie bekendgestel. Die verskeidenheid lappe en asemrowende handwerke slaan ons asems weg. Ons word bederf met tee en koek en die allerheerlikste geselskap. Traag spring ons in ons voertuie na ons tweede bestemming: Petrusville.
Hier ontvang Zahn Spies ons, stigter van FLOCK – Ladies of the Karoo, en stel ons bekend aan haar werkskeppingsprojek met vilt. Daarna is ons na haar plaas in die distrik om self te sien hoe die wol vervilt word. Beslis ‘n besoek die moeite werd.
Orania was volgende, ons oornagplek. Na ‘n interessante toer deur Orania wat ‘n besoek aan die Radiostasie ingesluit het, het ons by die Lente-ete van die Lodge aangesluit. Die oggend kon nie gou genoeg aanbreek nie, want ons was op ‘n missie: ORANIA SPA toe! Vir die meeste van ons was dit ‘n eerste! Ons is soos koninklikes ontvang en getooi met wit kamerjasse en pantoffels is ons weggevoer op ‘n hemelse ervaring vir die res van die dag.
Te gou was dit verby en tyd om van die wolke af te klim, terug huis toe.
Berig deur Rina Coreejes

Ons besoek aan Laslappie.

Saam met FLOCK - Ladies of the Karoo
.

Koninklike bederf by die Spa.