Posted on 27 September 2010

'n Opgewonde groepie VLV lede en vriende het 'n uitstappie onderneem na die Griekwa Ratelgat Ontwikkelings Trust tussen Vanrhynsdorp en Nuwerus. Mnr. Jan Josef het ons deur die reservaat geneem, waar van die raarste plantspesies op aarde aangetref word. Sekere van die plantspesies kom uitsluitlik op die plaas Ratelgat voor en nêrens anders op aarde nie.

 

Daarna het hy ons na die monument geneem waar die eerste Opperhoof A.A.S. Le Fleur se huis gestaan het. In kort het hy toe die geskiedenis van die Griekwas vertel. Op 5 Mei 1898 is Opperhoof A.A.S. Le Fleur gevange geneem. Hy is tot 14 jaar harde arbeid gevonnis. In die gevangenis voorspel hy dat hy op 3 April 1903 om 15:00 sal vrygelaat word en presies op die uur en datum is A.A.S. Le Fleur vrygelaat. Toe hy uit die tronk kom het hy God gedank. Die volgende profesie het "Die Kneg" oor Ratelgat gemaak: "God sal die woestyn in 'n paradys omskep en Ratelgat sal die eiendom word van die Griekwa volk sonder dat 'n sent betaal sal word.” Sedert die ontvangs van die plaas op 11 Mei 1999 is die ontvangsdatum van die historiese plaas en die geboorte dag van wyle A.A.S. Le Fleur gekombineer en het die Ratelgat naweek sy ontstaan gekry. Die kultuurgeskiedenis, taal en danse word gereeld beoefen. Om te lees oor die geskiedenis van Ratelgat kan dit besoek word by www.ratelgat.co.za.

 

Toe is ons Matjieskraal toe waar daar 28 matjieshuise, ‘n lapa en ander geriewe is wat toeriste kan oornag. Terwyl die vrolike groep VLV lede en vriende piekniek gehou het, het Mnr. Jacobs Cloete op sy kitaar vir ons 'n paar vrolik tradisionele liedjies gesing.

 

Daarvandaan is ons toe na die nuwe oornag chalets toe waar Vredendal VLV  'n olienhoutboom geplant het. Dit was 'n lekker en leersame uitstappie wat ieder en elk geniet het.

 

Herkoutjie.....Ploeg self op die kliprand en gee vir jou kneg die sagte grond, dan sal jy jou kneg behou en jou ploeg ook.

 

 

 

 

 

 

 

 

Fondsinsameling: 22 September 2010

 

Vanaf Woensdagoggend 6 uur het die VLV vrouens en nielede van Vredendal in die motorhuis van Carien Nieuwoudt begin om 1350 pannekoeke te bak. Die groot aantal pannekoeke is deur die dorp se besighede bestel. Wat 'n vrolike gees het daar nie geheers nie - daar is baie gelag en geklets en van die mislukkings praat ons nie eens nie. Elke hand, oud en jonk, het gehelp om fondse te in. Daar was darem tussenin tyd om die liggame te versterk met tee, koffie en beskuit. Na 'n uitputtende, maar suksesvolle dag kan ons net dankie sê vir elkeen wat gehelp het en laaste maar nie die minste nie, ons Hemelse Vader want Hy alleen het vir elkeen van ons die krag, genade en gesondheid gegee om 'n sukses te maak. As dit by werk kom, staan VLV vroue saam en trek die wa deur die drif.

 

Gedagte: As jy nie deur die dag van jou voete afgevee wil word nie, is dit noodsaaklik dat jy die dag op jou knieë sal begin.

 

Beriggewer: Carien Nieuwoudt

 

 

 

Comments are closed