Posted on
11 October 2010
Saterdag, 9 Oktober, het die VLV dames van Victoria-Wes die gr 11 en 12 meisies in die skoolsaal onthaal. Die oggend is op gepaste wyse geopen deur een van die bestuurslede, Willinie Sinclair. Michel Fann van Tonder het gevolg met 'n praatjie oor skoonheid en grimering. Sy het die meisies gemaan om reeds van vroeg af hulle velle op te pas en om altyd sonbrandmiddel te dra. Michel Fann het ook 'n paar meisies se harte bly gemaak deur grimering as gelukspakkies weg te gee.
Vir bietjie pret is die meisies in twee groepe verdeel en die uitdaging aan hulle gestel om te kyk watter groep ALMAL eerste op 'n enkelvel koerantpapier kan staan. Dit het vir ‘n bietjie kopkrap en lekker lag gesorg.
Alta du Plessis het 'n kort laslappie demonstrasie gelewer. Almal van ons het afvallappies en 'n naaldwerkmasjien is nie nodig nie. Dit is opgevolg met 'n demonstrasie oor hoe om goedkoop kaartjies vir spesiale geleenthede te maak. Elize Perrin het aan die dogters verduidelik hoe stokkies, toutjies, vere, ystervarkpenne en vele meer aangewend kan word om interessante kaartjies te maak.
Die oggend is afgesluit met 'n kort praatjie oor "Droom meisie, Droom vrou". Elize Perrin het daarop gewys dat elke persoon se idee van 'n droom meisie verskil, maar eintlik is 'n droom meisie iemand wat getrou is aan haarself; iemand wat haar eie lewe leef. God het nie bedoel om ons 'n replika van iemand anders te maak toe Hy ons geskape het nie; daarom mag ons elkeen ons eie drome he! Aan die einde van die praatjie is die dogters tyd gegun om vir hul elkeen 'n droomkaart te maak deur op karton in groot letters hulle drome neer te skryf en dit op te plak waar hul dit elke dag kan sien. Van die drome kan verander of daar kan nog bykom, maar ons mag nooit ophou om te droom nie.
Elke meisie het 'n kardoesie met verversings ontvang en ook 'n boekmerkie om hulle aan die dag, en hul drome, te herinner.

Die gr 11 en 12 meisies van Victoria-Wes Akademie wat die Droom meisie, Droom vrou oggend bygewoon het.