Posted on 11 November 2010

Jannie Kruger, ‘n bekende sakeman van Vanrhynsdorp en ‘n man wie se stem gereeld op Radio Namakwaland gehoor word, was die gasspreker tydens Vredendal se Opvoeding & Kultuur portefeuljevergadering.

 

Hy het gesels oor ouerskap en sê dat ouers nie opleiding vir ouerskap kry nie. Daar word ook geen permit vereis om ‘n ouer te kan wees nie.

 

Positiewe en goeie ouerskap kyk gewoonlik na die volgende: Is jou kind veilig? Het hy of sy 'n goeie selfbeeld? Let op goeie verhoudings, die leer van waardes, onvoorwaardelike liefde en die hantering van kritiek. Ouers hoop dat hul kinders sal ontwikkel tot positiewe en verantwoordelike volwassenes. Verantwoordelikheid is iets wat van binne af groei as dit gevoed word deur waardes en die voorbeeld wat kinders kry van die mense wat vir hulle lief is en vir wie hulle respek het. 

 

Ten opsigte van dissipline is die verhouding van die ouers, positiewe kommunikasie, ‘n geloofwaardige voorbeeld van die ouer en die versterking van positiewe gedrag, baie belangrik. Die keuse van vriende en aktiwiteite van die gesin is ewe belangrik.

 

Kommunikasie is van kardinale belang. As jy na jou kinders wil luister is dit belangrik om jouself die volgende af te vra: Luister ek met empatie en aandag? Kan my kind negatiewe emosies uitspreek sonder vrese? Is ek oop vir nuwe idees en weet my kind dat hy/sy uniek is. Onthou altyd dat kinders in wese, behoeftes, gemoed en kommunikasie verskil.

 

Hy sluit af met Deut 11: 19-21 "Leer dit vir jou kinders deur met hulle daaroor te praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan. Skryf dit op jou deurkosyne en op jou stadspoorte. Dan sal julle en julle nageslag lank, ja so lank as die hemel en die aarde sal bestaan, bly woon in die land wat die Here met 'n eed beloof het om aan julle voorvaders te gee."

 

Gedagte: Die lesse wat ons, ons kinders binne die gesin leer, word toegepas op die wêreld buite die gesin.

Comments are closed