Posted on
15 November 2010
Annatjie Viljoen en Ronel Smit het 5 jaar gelede ‘n kwiltkursus bygewoon. Die gogga het hulle gebyt en daar is met die stokperdjie begin. Daar is verskillende maniere van kwiltwerk doen: die Engelse metode, die Japanese metode, die Amerikaanse metode en Dolaswerk. Verskeie van hierdie twee dames se kwilte is vertoon – almal erfstukke! ‘n Besonderse stukkie werk is die een van ‘n John Deere Trekker wat Annatjie vir haar seun gemaak het. Daarna het al die VLV lede ‘n voorbeeld van die Japanese metode van kwiltwerk gemaak.
Dr Frans Truter het die belangrikheid van gesond leef om hartverwante siektes te voorkom beklemtoon. Die meeste sterfgevalle in Suid-Afrika is a.g.v. hartaanvalle. Risiko gevalle is byvoorbeeld oorgewig, cholesterol, rook, hoë bloeddruk, stres, min oefening, suikersiekte, ens.
Marie Hanekom het meer inligting verskaf oor die trauma-eenheid van die polisie. Sy het ook meer vertel oor wat die “veilige huise” projek behels. Estelle MacGregor het die 15 syfers van die nommer verskaf om jou selfoon onskadelik te maak, indien jou selfoon sou wegraak. Ook het sy inligting verskaf oor die gratis biblioteekdiens vir swaksiendes en blindes.
Marianne van der Merwe het troeteldier eienaars gewaarsku oor oorgewig troeteldiere en wat die nagevolge daarvan is.
Die Sitrus Winkel is ook besoek. Hier het Johannes ‘n kaas- en wynproe aangebied. Johannes en sy vrou, Anyas, se passie vir kos en drank het duidelik gespreek uit die manier waarop hy die proe aangebied het. Anyas en Getruida het daarna die heerlikste koeke en tee voorgesit. Almal het dit terdeë geniet.
‘n Pannekoek bak is gehou om fondse in te samel. Daar is heerlik saam gekuier rondom die bakkery.
Beriggewer: Minette du Toit



