Aan ‘n dame se ouderdom word nie gepeuter nie en dit is ook nie iets wat hardop gefluister word nie, maar as sy ‘n fleurige 80 jaar jonk word, is dit tyd om fees te vier.
‘n Groot dag wat met groot vreugde en finesse beplan is, het eindelik aangebreek. In netjiese en modieuse uitrustings het die gaste opgedaag om ‘n glasie te klink en by ‘n tafel aan te sit met heerlike outydse geregte. Nou nie dat ons kan onthou wat in die ou dae geëet is nie - ons het natuurlik gaan Google daaroor en toe wyser geword.
Die saal was pragtig versier met die rooiste rose en groen loof, soos net ons voorsitter Monica Geldenhuys dit kan doen. Die tafels is gedek in wit en room met groen Ivyblare. Silwer kandelare met wit kerse het die feestelikheid onderstreep.
Ons was getrakteer op sang deur Rida Crous en oee, sy het soos ‘n engel gelyk en ook net so geklink, dierbaar verby! Gelukkige nommers het gesorg dat ‘n hele paar gaste geskenkies gekry het. Die groot lekkerte was ‘n vrugtekoek wat in Francina Marais se sak geland het. SCB Smit het met deernis, liefde, humor en ek-onthou-nog-dit-en-kan julle-dat-onthou? van die wel en weë van Wellington se VLV vertel. Marinda Rall, ons sirkelpresidente het ‘n groeteboodskap oorgedra en die tafelgebed gedoen.
Gaste kon smul aan gevulde ontbeende hoender, lamvleispastei, rys, soet patats, groenboontjies en ‘n verskeidenheid slaaie. Nagereg was melktert, sjokoladekoek, konfyttertjies en koeksisters.
‘n Dag wat ons nog lank sal onthou is verby en nou lê die Kerstyd voor met heerlike vooruitsigte van familie wat kom kuier en gesellige etes.
Beriggewer: Petro Greeff

Die rangskikking deur Monica Geldenhuys.

Oud-voorsitters en huidige voorsitter. LNR: SCB Smit, Dalena Malan, June Smit, Marine van der Merwe, Francina Marais en Moninca Geldenhuys.

Eugenie Wiggins : voordrag gelewer, Irène de Waal : opening gedoen, Marinda Rall : sirkelpresident, Steffie Brink : voormalige sirkelpresident en Monica Geldenhuys : voorsitter