Posted on
23 November 2010
Tydens die November vergadering was die fokus op gee omdat ons in al die gejaag om alles vir Kersfees reg te kry dikwels die ware betekenis van Kersfees uit die oog verloor.
Lina van den Berg, wat die kersprogram saamgestel het, het die verhaal van die vierde wyse man gebruik om die gee-aspek van Kersfees uit te lig. Dié wyse man, wat eers al sy besittings verkoop het om vir die koning, wat gebore sou word, ‘n gepaste geskenk te kan gee, het tydens sy lang en moeisame reis na Bethlehem toe die saffier, robyn en pêrel, wat hy eintlik vir die koning gekoop het, gebruik om ander te help. Toe hy uiteindelik dertig jaar later Jesus op die kruisheuwel in die oë kyk, besef hy dat hy tog die Koning gevind het, maar tot sy ontsteltenis het hy niks gehad om vir Hom te gee nie. ‘n Fluisterstem het hom egter getroos dat hy wat niks buiten sy gebroke self het om te gee, die Koninkryk van Genade, God se grootste liefdegawe, sal ontvang.
Theresa Troskie het van interessante legendes en tradisies vertel. So stel die kersboom lewe voor en is die liggies simbool van Jesus, wat die Lig in die wêreld gebring het. Elke lid het twee of drie geskenke gebring, wat namens die VLV aan die inwoners van die plaaslike ouetehuis gegee sal word.
Die lede, wat elke vergadering gedurende die jaar bygewoon het, is met geskenkies bederf en tant Annie Slabbert is weens haar entoesiasme, ten spyte van haar hoë ouderdom, as vonkelvrou van die jaar aangewys. Sy het alle lede met heerlike verversings bederf en so gewys hoe uit liefde gegee kan word.
