Posted on 30 November 2010

‘n Heerlike potpourri van blomme, Kersinkopies, demonstrasies, pryse en eetgoed het die VLV lede van Kleinmond verwelkom by die afsluitingsvergadering.


Die hoofdis was beslis die blommedemonstrasie deur die Overbergse baasrangskikker Jeff Milne, wat met die tema “Minimum materiaal met maksimum effek” gewys het hoe daar gou met min blomme ‘n feestelike effek vir die kuierseisoen geskep kan word.

 

Selfs by die buitebraai kan in die swartpotjie ‘n vuur-en-rook effek verkry word. Sit deurweekte oases in die pot en plaas ‘n ring van gedroogde wingerdlatte bo-op. Vul dit met oranje-rooi en geel speldekussings, pienk proteas en vuurpunte en versier dit verder met ‘n paar droë swart bamboeskrulle, vaal slangbossies en jakkalsboegoe om die rookeffek te kry. Rond dit af met ‘n paar dun palmtakke.

 

 

Vir die Kersbuffet het hy vyf gedroogde krismisrooskoppe in ‘n langwerpige koperbak gesteek. Met ‘n geoefende hand is ses aspidistra-blare in driehoekige tuite gevorm, onopsigtelik vasgekram en eweredig tussen die krismisrose ingesteek. Ter afronding is ses agapanthus in volle blom op verskillende hoogtes in die blaaropeninge gesteek.

 

 

Nog ‘n vinnige treffer was die “handrangskikking” in die platpot met die nou bekkie. Eers is twee ringe van droë wingerdlote op die pot geplaas met twee kort gesnyde blou krismisrose in die nou bekkie van die pot. Daarna het hy die vier wit agapanthus in sy hand gerangskik, korter geknip, met ‘n rekkie vasgemaak en toe ook in die bek van die pot gedruk. ‘n Houtkrul is bygesit en gebalanseer met twee reuse varkoorblare. Daarna is die platpot op ‘n “stofie” gesit om ‘n swewende effek te verkry.

 

 

Nog drie rangskikkings het gevolg met o.a. varklelies, ystervarkpenne en feëtjieliggies, drie pienk anthiriums op ‘n bed van slangbos in ‘n groot vierkantige glaspot en dan in ‘n plat glasbak geplaas met kerse en wit klippies en dan laastens het hy met slegs vyf reuseproteas, drie strelitzia-blare waarvan uit die blare vierkante gesny is en seweweeksvarings afgerond met “dodder”om bloemistedraad gedraai, ‘n saalrangskikking geskep.

 

Hy het die dames weer daaraan herinner dat ons slegs die wondere van die Skepping by ons kinders leen en geleende goed gee mens terug in die toestand waarin jy dit gekry het!

 

Tussendeur het sy assistent, Johan Odendal, die VLV dames verstom met sy servetvoukunsies, pragtige handgemaakte papierartikels en ‘n heerlike suurlemoentert.

 

Beriggewer: Hermien van Zyl

Comments are closed