Posted on 08 December 2010

Die jaarlikse afsluiting van die Griekwastad tak was vanjaar 'n afsluiting met 'n verskil.  Die taktradisie is dat daar afwisselend een jaar 'n funksie vir lede gehou word waar ons net VLV en dan weer 'n geleentheid vir die hele gesin.  2010 het egter heel anders verloop deurdat ons tak al die dames in ons gemeenskap uitgenooi het om ons damestee te kom geniet.  Ons is bevoorreg om ons president,  mev Erika Lubbe,  wat ook ons voormalige sirkelpresident is, naby te hê en het haar genooi om as gasspreker op te tree.

 

Op kenmerkend positiewe wyse het mev. Lubbe dames inspireer om hul drome as uitdagings te sien, daaraan te werk en vol te hou totdat die drome 'n suksesvolle werklikheid word.  Lubbe het ook die VLVK tema vir 2011, Aanhouer Wen, as leuse aan elke dame gegee om haar drome te kan bewaarheid.

 

Sy het gewaarsku dat passie, harde werk en weer probeer tot die einde toe van die belangrikste aspekte van sukses is.  Sukses is nie altyd iets wat maklik is om te bereik nie,  maar met 'n positiewe houding en hope dryfkrag is enige iets moontlik. Sy het afgesluit met die woorde van staatsman Sir Winston Churchill,  "never,  never,  never give up".

 

Die oggend is afgesluit met 'n modeparade deur plaaslike kleremaker,  Romi Ludwick.  Dogters uit ons gemeenskap het die modeparade voorafgegaan met ballet,  moderne dans en “actif energy” items. Stalletjies met klere, kuns,  snuisterye,  juwele en vele meer het almal geleentheid gegee om hul Kersinkopies kuier-kuier te doen.

 

Van links mevv. Yvonne Ludwick,  uittredende voorsitter,  Melana Moller, sirkelpresident Griekwaland-Wes,  Erika Lubbe,  VLVK president en Hanna van der Linde,  voorsitter 2011.

  

 

 

Comments are closed