Posted on
16 February 2011
Datum: 15 Februarie 2011
Langebaan tak het die jaar 2011 afgeskop met 'n heerlike "Ken Mekaar" oggend. Die voorsitter het die vergadering geopen en die eienskappe van 5 edelgesteentes aan die vergadering voorgehou. Elke vrou het hierdie eienskappe en daarom kan hulle uithou, aanhou en volhard. Sy het die dames uitgedaag om so te gaan leef dat jy geken sal word aan hierdie eienskappe.
Die saamroepers se tafelversierings het hul studierigting pragtig uitgebeeld. Die lede in elke groep het deegklei gekry waarmee hulle hul betrokke studierigting verder moes uitbeeld. Daar is heerlik gelag en saamgewerk. Die Gesondheid groep het baie oulik gelyk met hul verpleegstershoedjies. Die Openbare Sake groep het padveiligheid as tema gekies en hul karretjies en padtekens was baie oulik. Die Naaldwerkgroep het knope, 'n skêr, 'n maatband ens. gemaak. Die Huisvlytgroep het hulle ook baie goed van hul taak gekwyt. Die groep van Opvoeding het o.a. Noag se ark pragtig uitgebeeld. 'n Mens kon sien die oumas speel gereeld saam met die kleinkinders klei. Die Kunste & Handvlyt groep het hulle studierigting goed uitgebeeld, die voorwerpe was selfs met krale ens. versier. Die Landbou & Tuinbou groep se vrugte, groente en blomme was pragtig!
Na die lekker saamwerk is die dames ingedeel in die 5 verskillende edelgesteentes groepe nl. diamante, pêrels, saffiere, robyne en topaas. Elke groep het 2 minute gekry om mekaar se name te leer ken en moes toe 'n slagspreuk/liedjie ens. uitdink en dit voordra aan die vergadering. Die pêrels het heel gepas "As Hy weer kom, kom haal Hy Sy pêrels" gesing.
Die oggend is afgesluit deur heerlik saam te kuier rondom die teetafel en almal het heerlik gesmul aan die verversings, voorgesit deur die Saamroepers.
Beriggewer: Estelle du Plessis

Die groepie lede gereed om hulle slagspreuk voor te dra.

Die Gesondheid groep met hul verpleegstershoedjies.

Die Kunste & Handvlyt groep aan die werk.

Die Opvoeding groep besig met hul uitbeelding.