Posted on
01 March 2011
Dordrecht se VLV het die jaar afgeskop met ‘n administratiewe vergadering in Januarie 2011.
Sameroeper en voorsitter, Lenie Fourie, het die vergadering geopen en voorgegaan. Daar is aan almal hul pligte vir die jaar uitgedeel en enkele sake aangaande die konferensie is bespreek en die afgevaardigdes is gekies.
Hantie Jordaan en Linda Jordaan gaan as afgevaardigdes en Lenie Fourie en Anna van Niekerk gaan as dagbesoekers die 16de Maart Ugie toe. Kursusse wat beplan word vir die jaar vorentoe was ook bespreek. Die beplande kursusse sluit in: Tokreen, Lapverf, Naaldskilderkuns oftewel Lintborduur en “Scrapbook”.
Februarie was ‘n besige maand. Ons het die 16de Openbare Sake vergadering gehou waar Ansie Labuschagne die sameroeper was. Gasspreker vir die dag was Barrie Badenhorst wat ons kom vertel het hoe om ons huise te beveilig. Dit was ‘n baie insiggewende praatjie en ons is verskeie “tips” gegee oor hoe om dit veiliger te maak in en om ons huise. Ons wil hom hartlik bedank vir sy bydrae wat hy lewer tot die gemeenskap. Dit gaan nie ongesiens verby nie!
Op die 26ste Februarie het ons ‘n heerlike Tokreen kursus gehad wat aangebied was deur Christa van Lady Grey. Die dag was bygewoon deur 16 dames wat beide lede en nielede ingesluit het. So tussen die plak en verf deur het ons heerlik tee gedrink en verversings geniet. Sonja Pautz het ook vir ons haar “scrapbook” goedjies kom uitstal. Baie dankie aan Christa wat hierdie nuwe stokperdjie met ons kom deel het. Ons het die dag terdeë geniet.
Beriggewer: Linda Jordaan

