Posted on
06 March 2011
Portefeulje: Gesondheid
Met die Gesondheid vergadering, Dinsdagmiddag 1 Maart 2011, was dit min of meer “Gesondheid in die rondheid en alle VLV vroue in die blomtyd”. Naomi Nell en haar gasvroue was vir die geskiedkundige eerste middagvergadering verantwoordelik. Hulle het alle nuwe besparing voornemens oorboord gegooi en die gaste trakteer met ‘n skitterende juwele uitstalling, handsakke om van te droom en alles afgerond met vrolike rangskikkings van fynbos uit ons kontrei. ‘n Keurige teetafel was die kersie op die koek.
Alles was darem nie net frivole ontspanning nie. Elnette du Toit van KANSA het ‘n
In diepte bespreking oor die groot K aangebied. Een uit elke drie persone is of was al betrokke by kanker daarom raak dit bykans elke persoon. Sy het die dames gewaarsku teen die gebruik van plastiek – veral wanneer dit verhit word. Volgens navorsing het dit ‘n negatiewe uitwerking op die liggaam en kan dit as een van die oorsake vir die bevordering van kankerselle beskou word. Plastiese bababottels hoort nie in die mikrogolfoond nie en dié bietjie oorskietkos in die vrieskas moet liefs in ‘n glashouer verhit word. Die ou pyrex bakke van weleer kry deesdae ‘n tweede kans.
Charlene le Roux, Miempie du Plessis en Rienie Ludick sal die plaaslike tak by die konferensie (Hermanus, 16 Maart 2011) verteenwoordig. SD Fourie is afgevaardig om Gansbaai tak by die Kongres (Villiersdorp, 16-18 Augustus 2011) te verteenwoordig. Sterkte aan die afgevaardigdes asook alle deelnemers aan die kompetisies.
Kinnie Schutte het ingewillig om ‘n nuwe takvaandel te ontwerp en te kwilt. Dit is ‘n jaar lange projek waarvoor almal skriftelike insette voor die volgende vergadering kan lewer. Kinnie sal daarvolgens haar ontwerp beplan. Baie dankie, Kinnie.
Uitslae van kompetisies:
Gebak: Souttertjies – Miempie du Plessis
Mikrogolf: 3 somervrugte stukkonfyt – Christie Groenewald en Esmé van Dewenter
Kuns: 3 kaartjies met verskillende “teabag folding” tegniek – Miempie du Plessis
Uitstaller: Cora Helberg. Baie dankie vir al jou moeite.
Volgende vergadering: 3 Mei 2011 om 15h00.
Die middagvergadering was ‘n groot sukses – byna soos die bioskoop matinee van ouds. Prettig en gesellig – ongelukkig sonder vryers en springmielies!

Elnette du Toit KANSA en Naomi Nel.