Posted on
14 March 2011
Op Dinsdag 1 Maart het Mona Nel van Modderfontein, Jamestown, haar 80ste verjaardag gevier. Haar jongste dogter, Elmarie, en haar man Daan Joubert van Kroonstad, het spesiaal gekom vir die groot geleentheid, terwyl die oudste dogter, Cecile, se seun Casper jnr. darem teenwoordig kon wees.
'n Groep vriende van hul kerkwyk, asook van die plaaslike VLV het heerlike verversings aangebied by haar en Casper snr. se huis, aangesien Mona se gesondheid nie toelaat dat sy 'n groot okkasie kon aanbied nie.
Mona Nel was 'n nooi Stephansen van Deense oorsprong en het haar skoolloopbaan in Pretoria voltooi en ook daar gewerk. Sy is al 58 jaar getroud met Casper Nel, 'n boer van Jamestown, en hulle het 2 dogters en 1 kleinseun.
Sy was haar lewe lank baie betrokke in die gemeenskap - hetsy in die verenigingslewe, kerk, skool, of om haar bedrywige man te ondersteun in sy vele aktiwiteite! Vele ouer vroue kan daarop roem dat hulle aan Tannie Mona se voete geleer het van betrokke wees by jou medemens en van sáámwerk. Sy het 'n resepteboek "Vat Vlam!" vir die NG Kerk saamgestel en 'n Hooglandtoer (per bus) gereël. Daarby was sy ook 'n beoordelaar by die VLV. Sy is ook baie kunstig en behalwe olieverfskilderye, het sy al 'n groot verskeidenheid groetekaartjies gemaak.
