Posted on 14 March 2011

VLV-Vroue sal Aanhouer Wen!

 

Op 10, 11 en 12 Maart het afgevaardigdes van regoor Namakwaland op Klawer byeen gekom vir 'n groei-geleentheid soos  min.  En alhoewel heelparty van hierdie vroue se kruike maar redelik leeg was met die aankomslag, is elkeen met 'n vasberade, dog ligter tred daar weg, want ons ís suksesvolle vroue wat nie moedeloos sal word nie, wat nooit sal opgee nie, wat sál aanhouer wen!

 

Tydens haar Presidentsrede, motiveer Karien van Schalkwyk almal om op te hou uitstel, en eenvoudig te begin doen.  As jy 'n doelwit het, beplan jou strategie, fokus op die belangrikste en onthou dat jy meer sál bereik as wat jy ooit kan dink of vra, want dis die PLAN met jou lewe.

 

Ruanda Voster, wat kanker oorleef het, inspireer deur te herinner dat jy suksesvol sál wees, as  jy bereid is om aan te hou en uit te hou, totdat jou droom waar geword het. 

 

Alida Vlok, Leefstylsaamroeper, herinner dat, al gaan positiewe vroue uit op bewende knieë, hulle weet dat hulle staande sal bly, want hulle het pas van daardie knieë af opgestaan. 

 

Ds. Nico van der Merwe verduidelik waarom 'n skildery met jou kan "praat" of nie in die kunste & handvlyt-afdeling. 

 

Arina van Lill beklemtoon die belangrikheid daarvan om gereeld vir roetine mediese ondersoeke te gaan.  Jy is in beheer van jou gesondheid en jy kán gesonder lewe.  

 

Ina Bosman, visepresident van die sirkel, bemoedig elkeen om in Abraham Lincoln se woorde inspirasie te vind:  "Wees sterk, vasberade en moenie eens dink aan tou opgooi nie." 

 

Renda Stephan, Vredendaller van die jaar, munisipale raadslid en sakekamer voorsitter daag almal uit om met praktiese, haalbare veranderings in die huishouding, 'n verskil te maak aan besoedeling wat ons planeet vernietig, selfs al plant ons net elkeen 'n spekboompie. 

 

Sanet Ras raak liries oor Boslelies oftewel Clivias in die landbou & tuinbou-afdeling en Susan Carstens vertel wat dit in stimulasie van haar geverg het om haar serebraal gestremde dogter se ineengetrekte postuur oor die jare te manipuleer sodat sy vandag soos 'n normale kind kan funksioneer.  As maatskaplike werker by die Olifantsrivier vereniging vir gestremdes, kan sy getuig van die positiewe verskil wat organisasies soos die VLV gemaak het deur uit hul gemaksones te klim en van hulself te gee. 

 

Dr Melané Coetzee, oudsirkelpresident en eregasspreker by die Dinee, bevestig dat as Helen Keller, Jake White en Henry Ford hul struikelblokke kon oorkom om suksesvol te wees, om selfs inspirerende rolmodelle te wees, ons nie kan toelaat dat enigiets in ons pad kan staan om aan te hou en uiteindelik te wen nie.  Wat het ons om te verloor?

 

 Beriggewer: Janine Brynard

 

 

Seker vanselfsprekend...Klawer was die gasvroutak, en het ontsettend baie moeite gedoen met die dekor van die konferensie-saal...hier 'n fiets-tema met die sirkelvaandel.


 

 

Dr Melané & Pieter Coetzee. Die eregasspreker tydens die dinee was Dr Melané Coetzee.  By haar is haar eggenoot, mnr Pieter Coetzee.
 

 

Sirkelbestuur met Dr Coetzee.  Die sirkelbestuur vir 2011/2012 is agter:  Dr Melané Coetzee (gasspreker tydens die dinee, nie bestuurslid), Kobie Basson (herkies as Sirkeltesourier/sekretaris), Alida Vlok (herkies as Leefstylsaamroeper), Arina van Lill (Gesondheidsaamroeper), Gerda Theron (Openbare Sake saamroeper), Heidi van Niekerk (Kunste en Handvlytsaamroeper) en Sanet Ras (Opvoeding en Kultuursaamroeper).  Voor sit Karien van Schalkwyk (Sirkelpresident) en Ina Bosman (Visepresident).

 

 

 

Afgevaardigdes, waarnemers, dagbesoekers, sirkelbestuur en beoordelaars.

Comments are closed