Posted on 23 March 2011

Ons het lekker vergadering gehou op 'n warm herfsmiddag. Daar is verslag gedoen oor die pas afgelope Sirkelkonferensie op Victoria-Wes en die pryse vir die wenners in die kompetisie afdeling is uitgedeel: 1e plek Naaldwerk (speldekussing): Adri de Villiers; 3e plek Naaldwerk (speldekussing) Emmerentia van Vuuren; 2de plek Handvlyt (bêreboks): Rynette van Vuuren. Die tak het ook die Kwaliteit skild ontvang.
 

Mnr John Havenga, raadslid van die Renosterberg Munisipaliteit, het kom praat oor die nuwe stortingsterrein wat op Petrusville opgerig is teen 'n asembenemende bedrag. Die terrein is eko-vriendelik en voldoen aan al die vereistes wat voorgeskryf is, maar die vrees bly staan dat dit nie reg bestuur gaan word nie. Hy het ook genoem van die probleme met begraafplase wat 'n al hoe groter kopseer word vir munisipaliteite. Lede het baie vrae aan hom gevra oor hierdie sake. 
 

 Mnr. John Havenga, Raadslid Renosterberg Munisipaliteit.

 

 

Daarna het mev. Annatjie van der Merwe, bobaas naaldwerkster, gewys hoe mens 'n kraag netjies insit, asook hoe om 'n mouboordjie mooi in te sit.
 

 Mev Annatjie vd Merwe
 

 

Die sameroeper van Kunste en Handvlyt, mev. Ina van der Walt, het daarna 'n interessante praatjie gelewer oor "Struggle" kuns. Dit is die kuns wat gedurende die apartheidsjare in die townships voorgekom het. Baie van die kunswerke is deur die veiligheidspolisie gekonfiskeer en die kunstenaar is in hegtenis geneem. Hierdie kunswerke het hoofsaaklik 'n rewolusionêre tema. Na 1994 het die kuns in die townships verander na vrolike, helder werke met opgewekte temas. Sy het voorbeelde van al hierdie kunswerke gewys.
 

 

Ina vd Walt
 

 

Daarna het almal heerlik gekuier en verversings geniet, voorgesit deur die gasvroue, Adri de Villiers en Emmerentia van Vuuren.

Comments are closed