Afgevaardigdes, dagbesoekers en gaste vanoor die hele Middelland streek het op 9 & 10 Maart in die Vriendelike Stad saamgetrek vir Sirkel Middelland se 77ste Konferensie, aangebied deur Hercula tak.
Die samekoms van al 15 takke uit ‘n wyd uiteenlopende geografiese gebied, was in ware Middelland styl uiters keurig en baie vrolik. Die sakelys is sonder moeite afgehandel en die sameroepers en gassprekers het hulle uitstekend van hul taak gekwyt. Takke het die geleentheid goed gebruik om inspirasie te vind, idees in te win en wenke uit te ruil.
Prof. Elain Vlok het konferensiegangers geïnspireer met haar openingsrede oor hoe ‘n mens, ten spyte van terugslae, kan wen deur aan te hou. Haar raad is om elke geleentheid op jou lewenspad ten volle te benut.
Middelland President, Lynette Martin, het in haar Presidentsrede gesê dat jy oud kan wees op veertig en jonk op tagtig. Moet net nooit, op enige ouderdom, dink dat jy alles in die lewe geleer het of dat die dag van more geen beloftes inhou nie.
Eldrie Mareé, arbeidsterapeut van Port Elizabeth, het beklemtoon dat ‘n mamma besig is met haar kind se ontwikkeling, elke keer wat sy haar baba hanteer. Louis Nell, ADT Armed Response, het veiligheidswenke gegee, want dis van kardinale belang om paraat te wees. Mnr Alan Haschick van Floradale Kwekery het gewys hoe om tuin te maak in ‘n beperkte spasie. Nicky Botha van Serendipity Interieurs het bekostigbare wenke gegee om ‘n baba/kinderkamer mooi te maak.
Middelland Erepresident, Helen Crouse, en erelid Ina Opperman was twee van 2011 se agt Dankie-Persone. Die lede van vandag kan nie anders as om geïnspireer te word deur hierdie twee dames in wie die VLV vlam nog so hoog brand nie.
Die A. B. van Heerden Trofee vir die meeste kompetisiepunte in totaal, is deur Alexandria tak verower. Die Projek trofee het ‘n tuiste gevind by Walmer tak. Uitenhage tak is aangewys as die tak wat VLV ten beste bevorder het. Daarvoor het hulle die Helen Crouse trofee ontvang. Acqua Tak het vir die 5de agtereenvolgende jaar die trofee verower vir die meeste nuwe lede.
Konferensiegangers was almal verryk deur die ervaring en is vol ywer terug na hulle takke om VLV tot nóg meer nuwe hoogtes te neem.
Middelland President Lynette Martin, gasspreker prof. Elain Vlok en Marlene Erasmus, voorsitter Hercula tak.
.jpg)
Veronica, Monica & Joy verteenwoordig Kirkwood en Jansenville takke onderskeidelik.
.jpg)
Erepresident Helen Crouse, erelid Ina Opperman en Marietjie van der Walt, voorsitter Uitenhage tak.
.jpg)
En so word dit gedoen!
Sirkelbestuurslede van Sirkel Middelland, pak ‘n bakkie van hoek tot kant, met o.a. hul kompetisie inskrywings vir konferensie, geskenke, eetgoed, lêers, tasse ens. Hierdie drie dames vertrek so om en by 04:00 van hul huise (Willowmore/Graaff-Reinet en Steytlerville distrikte) om konferensie in Port Elizabeth by te woon.
Van links : Ria Krause, sirkelsaamroeper Openbare Sake; Jackie Barnardt, sirkelsaamroeper Leefstyl en Lucia Dorfling, saamroeper Landbou en Tuinbou.
