Posted on 18 April 2011

Die betowerende klassieke klanke van Andrè Rieu het Britstown tak in ‘n ander wêreld geplaas tydens die Opvoeding en Kultuur gleuf, behartig deur Christie Viljoen en Elna Kriek. Sy biografie is kortliks behandel en d.m.v. verskeie snitte uit DVD’s kon ons na ‘n groot verskeidenheid van die meester se verwerkings kyk en luister.

 

Tydens die Landbou/Tuinbou gleuf het Michelle Jansen van Rensburg ons ingelig oor die Nasionale Voëlweek wat van 3-8 Mei plaasvind. Die Nasionale Voël vir 2011 is die Europese Swaeltjie. Birdlife SA streef na die bewaring van voëls en hul habitat. Interessante feite en projekte vanuit hul webblad, naamlik, www.birdlife.org.za, is genoem. Spesiale klem is gelê op die klein flamink wat, veral na die goeie reëns, by baie van die panne en damme in die Karoo sigbaar is.

 

Esmè Esterhuizen, ons eie Argus Fietstoer ghoeroe, het ons touwys gemaak in die sportsoort en vertel hoe om vir die Toer voor te berei.

 

Vir die Kunste en Handvlyt afdeling het elkeen van ons, onder leiding van Ivonne Gentle, ‘n Rotskuns artikel gemaak. Elkeen het ‘n groot klip gekry. ‘n Prent/motief is uitgeknip uit ‘n servette. ‘n Laag Modge Podge is oor die klip geverf en toe is die motief versigtig met die vingerpunte teen die nat klip plat gevryf. Dit word met ‘n paar lae Modge Podge weer geverf, elke laag in ‘n ander rigting. Wanneer dit droog is kan dit met fyn skuurpapier geskuur word en dan met ‘n lag vernis gespuit, en siedaar ‘n pragtige klip vir ‘n deurstop of in die tuin.

 

Ivonne het ook vir ons gewys hoe om kershouers van sement te maak. Meng 1 koppie sement met 3 koppies sand en meng met water tot regte digtheid. Gooi dit in silikoon koek/muffin houers en maak ‘n gat vir die kers. Los oornag en giet uit. Dit kan geverf word om by jou tema te pas.

 

 

 

Christie Viljoen, Nico Kriek en Elna Kriek het vir Andrè Rieu aan ons voorgestel.

 

 

 

Esme Esterhuizen, ons fietsry ghoeroe.

 

 

 

Moderne Rotskuns.

Comments are closed