Posted on
26 April 2011
Portefeulje: Opvoeding & Kultuur
Linda Biggs van Vleiplaats het hul ervaringe met tuisonderrig met die lede van Murraysburg VLV gedeel.
Wanneer tuisonderrig oorweeg word, moet vyf vrae eers indringend beantwoord word. Hoekom? Waar? Wat? Wie? en Watter uitdagings is daar?
Aangesien hulle, hulle tweeling wou leer dink en toesien dat die kinders nie net leer om te onthou nie, maar veral geskool word om oplossings vir probleme te soek en vrae te vra, het hulle tuisonderrig aangepak. Natuurlik wou hulle die gesin ook langer bymekaar hou.
Linda en William Biggs het 'n vertrek in 'n buitegebou met die nodige meubels, swartbord en muurspasie as klaskamer ingerig en die tweeling het die uniform van die Union High Voorbereidende Skool vir die skoolure (7:30-12:00) gedra. Daar is baie aandag aan vaste struktuur en dissipline gegee.
Die baie inligting wat deur die Internet beskikbaar is, het hulle verwarrend gevind, en goeie kontak met die Union High Voorbereidende Skool opgebou. Hulle het die leermateriaal wat daar gebruik is, verwerk en dieselfde reeks leesboeke gebruik. Baie materiaal het hulle self geskryf om seker te maak dat die kinders goed leer lees.
Linda Biggs het self die onderrig vir twee dae in die week behartig, vir twee dae het die bekwame Felicity Minnaar dit gedoen en op Vrydae is die kinders na Graaff-Reinet, waar hulle saam met leerders van ander tuisonderrig skooltjies blootgestel is aan allerlei buitemuurse aktiwiteite. Dit het die kinders ook gehelp om te sosialiseer en verhoudings op te bou.
Alhoewel baie bevredigend, is dit 'n baie eensame pad en is dit belangrik om met soveel ander wat tuisonderrig doen, te skakel. Omdat dit gewoonlik die moeder is, wat tuisonderrig aanbied, is goeie organisasie en hulp met die huishouding onontbeerlik en moet daar moeite gedoen word om die kinders met ander van hulle portuurgroep te laat skakel. Daar moet gepoog word om moontlike leerprobleme betyds te identifiseer en waar nodig moet met 'n opvoedkundige sielkundige geskakel word.
Alhoewel dit baie van die betrokke ouers verg, kan tuisonderrig suksesvol wees en is die hegter gesinsband 'n groot bonus.
Beriggewer: Mette Kromhout

Linda Biggs