Posted on
30 April 2011
Portefeulje: Openbare Sake
Porterville tak het besluit om vanjaar besoek te bring aan twee bedrywighede in ons eie dorp. Beide word suksesvol deur vroue bedryf.
Ons het eerstens Yolande van Niekerk se roosplaas besoek. Sy het ons ingelig oor die verskillende aspekte van haar boerdery. Dit is ‘n intensiewe boerdery wat baie aandag verg. Voedingstowwe word weekliks toegedien en plae moet baie goed beheer word. Rose word daagliks gepluk en verpak en dan in die koelkamer geplaas voordat dit versend word. Die versengende hitte wat ons dié somer verduur het, het veroorsaak dat die blomme vanjaar kleiner was.
By aanskoue van die pragtige blomme, moes ons erken dat die roos darem maar die koningin van die blomme is. Ons was aangenaam verras toe elkeen ‘n bos netjies verpakte rose ontvang het.
Ons tweede besoekpunt was op die plaas Eikendal waar Karin Knoetsen hul Vyevreugde produkte aan ons bekendgestel het. Karin en twee van haar vriendinne (ook boervroue) het 2 jaar gelede besluit om die vye wat nie geskik is vir om as vars vrugte bemark te word nie, te verwerk. Van die vye word gedroog en die res word gebruik vir die maak van konfyt, blatjang en ‘n verskeidenheid ander ingemaakte vyeprodukte. Daar is ook ‘n spesiale reeks produkte vir diabete. Geen preserveermiddels of bymiddels word bygevoeg nie en die produkte word aantreklik verpak in verskillende groottes. Die proesessie was voorwaar ‘n aangename ervaring.
Ons het ‘n baie interessante uitstappie afgesluit met ‘n heerlike middagete by Rendevouz, ‘n plaaslike restaurant.
Beriggewer: Hessie Kuhl

Tinkie van Zyl word gewys hoe rose gesny word.

Prag blomme gereed om verpak te word.

Vye word gedroog.

Hester Burger en Lena van der Merwe besluit watter produkte om te koop.