Posted on 10 May 2011

Portefeulje: Gesondheid

 

Rosa Lintvelt kon kwalik ophou giggel, terwyl haar ma Claudie, Graafwater tak se saamroeper van Gesondheid,  tydens 'n vergadering 'n voetmassering op haar voete gedemonstreer het. Wie se voete is dan nou nie kielierig nie!

 

 

 

Masseer die voete met sagte bewegings, maar oefen effens druk uit, want dit verbeter die sirkulasie en streel spanning weg. Gebruik die eerste twee vingers van albei hande en masseer in sagte sirkelbewegings om enkelbeen. Streel voet drie keer van bokant tot tone. Buig voet agteroor en knyp buitewand van hak tot by kleintoontjie. Roteer tone een-een drie keer in albei rigtings, terwyl jy voet met ander hand stilhou.

 

Oefening is noodsaaklik vir wintervoete. Stap soveel moontlik kaalvoet, buig en strek tone en voetbrug. Tel 'n potlood op met jou tone terwyl jy sit. Roteer enkels drie keer na regs en na links om swak bloedsomloop teen te werk.

 

Claudie het ook ander nuttige wenke aan lede gegee:

 

Gebarste lippe is 'n tipiese winterprobleem. Lippe het wintervertroeteling nodig, bedags sowel as snags, of dit nou 'n lipstiffie, lipbalsem of die goeie ou petroleumjellie is. Skaf 'n antivirus koorsblaar salf betyds aan en wend dit aan sodra jy 'n tinteling op die lip voel. Sodoende kan jy die koorsblaar uitboul voordat dit
verskyn.

 

Pasop vir te veel parasetamol. Hou by die voorgeskrewe dosis. Gevaar tree in wanneer jy meer as een soort medikasie gebruik, omdat jy so onwetend die voorgeskrewe dosis kan oorskry. Kenners sê so min soos 5.7 g parasetamol per dag kan noodlottig wees. Mense wat nie behoorlik eet nie, behoort ekstra versigtig te wees.

Comments are closed