VLV dames van 15 takke vanaf die Weskus Sirkel het die Sirkeldag op 21 Mei meegemaak. Die dames was geklee in denim en alles wat blink. Die spreker van die oggend was Johan Cloete, bekende chef van Kaapstad – hy is ook die seun van Elizabeth Cloete, paneelbeoordeelaar van VLVK.
Johan Cloete het onderskeidelik op twee televisieprogramme aanbiedings gedoen - Top Billing se hoedereeks uit sjokolade en suikerkuns op Pasella.
Johan lewer die volgende verskillende demonstrasies:
• Moderne Bakkery(Pastry) - Wat dit behels op wêreldkompetisie vlak.
• Inligting oor sjokolade- en suikertegnieke.
• Sjokolade- en suikerdemonstrasie.
• Moderne konsep van nageregte (Plated Desserts) vir daardie spesiale onthaal.
‘n DVD is vertoon van al sy “pragskeppings”. Johan noem dat sjokolade eintlik “kosbare juwele” is – hierdie delikate lekkerny moet so versigtig gehanteer word, net soos jy ‘n string pêrels sal hanteer.
Riana Richter, voorsitter Piketberg tak, doen ‘n voorlesing – “Swembroek koop”. Riana het die dames later skaterlag – elkeen het haar ingedink, hoe sal sy maak, om al die “vetrolletjies” in so ‘n klein stukkie lap, nogal van lycra gemaak, in te kry. Ja, ons almal sukkel maar met die probleempie.
Juffrou Anna Basson, VLV lid van Moorreesburg, het ‘n gedig voorgedra wat sy self geskryf het – April se droogte. Hierdie statige dame raak Desember 2011 nege en neëntig jaar oud. Almal het getuig dat juffrou Anna ‘n uitstekende voorbeeld is vir al ons Weskus Sirkel lede. Op haar hoë ouderdom mis sy geen VLV geleentheid nie.
Die “soet” dag is afgesluit met ‘n ligte middagete en natuurlik ‘n nageregbord voorberei deur Johan Cloete.
Borge wat die dag moontlik gemaak het:
• Boland Super Spar te Piketberg – vrugtesap tydens middagete
• Fruit and Veg City – middagete
• Liebco Vleismark te Piketberg - kontant
Beriggewer: Elmarie Cumpsty

Johan Cloete(spreker), Louwna Hoving (president), Estelle du Plessis (visepresident), Elmarie Cumpsty (voorsitter Eendekuil).

Juffrou Anna Basson – VLV Moorreesburg.

Nageregbord.

Suikerkunswerk.