Portefeulje: Leefstyl
Rachel van Wyk bedryf ‘n haar- en grimeersalon in Kleinmond en sy het met die dames van Kleinmond tak gesels oor hoe ouer dames moet grimeer.
Ons velle het baie aandag en sorg nodig – pamperlang is die woord. Was die gesig met ‘n goeie gesigwasmiddel wat geskik is vir jou veltipe, daarna kom die verfrisser (toner) en dan die dag- of nagroom. Vryf dit aan tot op die skouerhals.
Maak seker jou onderlaag pas perfek by jou veltoon en veltipe. Wend aan met ‘n sponsie of kwassie. Sit poeier liggies op jou onderlaag sodat die grimering langer kan hou. Met ’n vel wat neig tot lyne en plooie, is dit beter om ’n ligte, los poeier te gebruik wat deurskynend lyk. Wees altyd versigtig onder die oë, aangesien dit fyn lyntjies sal beklemtoon – die vel daar is baie sensitief.
Oogskadu is baie belangrik, want dit beklemtoon die oë. Aardse kleure werk die beste. Oppas vir groen en blou kleure. ‘n Fyn lyntjie kan onder die oog getrek word met ‘n sagte oogpotlood, wat die oë beklemtoon. Wend ligte oogskadu net onder die wenkbrou aan om die oë te lig en die grimering af te rond.
‘n Haartangetjie is handig om 'n lastige wenkbrouhaar of twee mee uit te pluk, maar pasop om nie te veel haartjies uit te trek dat jy later geen wenkbroue het nie. Vul wenkbroue in met ‘n sagte, goeie oogpotlood in ligte bruin of grys kleure en wees versigtig om die strepie nie te smal of te lank te trek nie.
Maskara laat die wimpers digter en langer vertoon en beklemtoon die oë. Bruin of swart maskara kan gebruik word, alhoewel bruin maskara ‘n sagter voorkoms gee.
Blosser gee lewe aan die vel. Glimlag, en borsel dan 'n sagte pienk (of brons) blosser oor die appel van die wang vir 'n helder gelaat. Moenie jou wange te rooi maak nie!
Kies ‘n kleur lipstiffie waarvan jy hou en waarmee jy gemaklik voel. Elke vrou moet lipstiffie in haar handsak hê. As jou lippie mooi lyk rond dit die prentjie van jou gesig af, al dra jy geen ander grimering nie. Voller lippe kan wegkom met meeste kleure, maar dun lippe moet donker skakerings vermy, want dit laat die lippe nog dunner lyk.
Beriggewer: Nelia Theunissen

Rachel van Wyk.
.jpg)
Annie Jooste, Rachel en Nelia Theunissen, wat model gespeel het vir Rachel.

Christine Lambrechts en Lorraine van Aarde.

Nelia Theunissen.