Posted on
10 June 2011
Die Leefstyl Portefeulje van Alexandria tak bied 'n heerlike damesoggend aan op Saterdag, 23 Julie. Die geleentheid sal plaasvind in die Gemeenskapsaal te Boknesstrand. Die oggend behels 'n modeparade en 'n uurlange eenvrouvertoning, Die Olie In My Lamp, deur die alombekende skrywer, Annelie Botes.

Omring deur die lig van kerse neem Annelie Botes die gehoor met grepe uit haar rubriekwerk vir ’n uur lank op die paaie van toentertyd. Paaie waarop ons almal al gereis het. En soms in die stil middernaguur gepleit het: Give my oil in my lamp, keep me burning till the break of day … Dis ontdaan van swets, politiek of oppervlakkige ligsinnigheid. Dit gryp aan die hart en is rukkend-menslik. Dis vir elke aardsling onthutsend om in die ounag gestroop te staan voor sy berge en dale; om te kyk na die weerkaatsing van sy eie siel en gewete.
Maar andersyds ook om bly te wees en ’n hosanna te neurie oor dae toe die lewe mildelik gegee het. Die lewe is nie altyd ewe maklik nie, sê Annelie. Tog, die lewe is ook nie so eindeloos moeilik nie. Ons moet alleenlik maar versigtig werk met die olie in ons lampe. Sodat die uur voor dagbreek ons nie in donkerte vang nie.
Daar sal verversings beskikbaar wees en die VLV lede sal hulle kunstige handewerk uitstal. Dit alles vir net R50.00 pp.
Vir meer inligting kontak: Anlouise Tel.046 6540447/ 083 960 4973.