Posted on
23 June 2011
Portefeulje: Vele
Tydens die onlangse VLV vergadering is lede gevra om hul gunsteling pop of sagte speelding uit hul kinderjare saam te bring. Pragtige poppe, sommige in ontwerpersuitrustings het die vergadering bygewoon. Talle sagte speelgoed is ook uitgestal en klein Nasie Vermaak, seun van Adéle Vermaak en kleinseun van Ouma Susan Vermaak (voorsitter van die tak) kon die versoeking nie weerstaan om tussen die speelgoed in die mandjie te klim nie.
Die poppe wat ten toon gestel was, was Graaff-Reinet poppe tot meer onlangse modelle en daar was ook handgemaakte lappoppe en porseleinpoppe. Lede het kaartjies aan die poppe geheg om die poppe se geskiedenis uit te beeld en sommige lede is gevra om hul poppe se stories te vertel. 'n Insiggewende geleentheid.

Elmien Downey demonstreer tydens die onlangse vergadering hoe sy haar strooikussings nuwe jassies aantrek vir die nuwe seisoen. In die somer kry die strooikussing koel kleure en in die winter warm kleure. Die los oortreksels word dan afgerond met 'n gespe of 'n materiaalroos. Blitsvinnig tower sy haar sitkamer om, om spiksplinternuut te lyk vir die nuwe seisoen.

Ywerige jong lid, Adéle Vermaak, demonstreer hier hoe sy pragtige artikels uit Tokreen klei vervaardig. Adéle is 'n Gr. R onderwyseres en het twee voorskoolse woelwaters, maar woon getrou elke vergadering by. Sy lewer gereeld inspirerende praatjies en deel graag haar kennis met die ouer garde.
