Posted on
07 July 2011
Portefeulje: Leefstyl
Beriggewer: Elsabe Schlechter
Wanda Cronjé het gesels oor "Umami" by Welgemoed tak se vergadering op 14 Junie 2011.
Wanda is 'n chef wat al vir bekendes soos Patrick Swayze en Marius Weyers kos voorberei het en het op 'n baie interessante manier vertel hoe jy besluit watter wyn om voor te sit by watter dis.
Daar is geen “magic” daarin om kos en wyn bymekaar te laat pas nie. Al wat nodig is, is om die basiese beginsels te ken en dan te besluit watter geure is dié wat jy wil beklemtoon. Dis belangrik om te weet van die 5 - ja 5! smaaksensasies; soet, sout, suur, bitter en umami (soet-sout) en hierdie dan op te weeg teen die volgende:
- Gewig: gevoel van die kos/wyn in jou mond, met ander woorde hoe swaar lê dit op my tong.
- Intensiteit van geur: hoe sterk is die geure in die kos/wyn. Jy moet gelykes bymekaar sit, die arme ligte Sauvignon Blanc gaan nie staande bly teen die geurige spaghetti bolognaise wat vir 4 ure gekook het nie.
- Suur: amper soos intensiteit, wanneer die suur hoog is in die wyn, gebruik sagter, effens soeter geure in jou kos en andersom.
- Soet: besluit of jy die soet wil komplimenteer of dit minder wil maak. Om te komplimenteer, soos bv. ‘n malvapoeding, drink ‘n soete, soos ‘n tawny port. Indien jy die kontras wil beklemtoon, bv. goeie donker sjokolade, dan is ‘n ligter rooi, bv. Pinotage, die regte keuse.
- Bitter: pasop hier vir die rooies, onthou daar’s tannien! Hou liewer by die wit wyne, veral by die sagte wit kase met die wit kantjies, hierdie vra vir goeie wit wyn met baie vrug, soos gehoute Chenin blanc,Viognier of selfs Semillon.
- Tekstuur: weer is die tannien die doring in die vlees, want dit verander veral vleisdisse wat tamatie bevat se tekstuur, hou liewer by die vrugtige rooi, bv. Shiraz, of ‘n oue as daar een in die kas is.
- Tannien: eintlik klaar oor die enetjie gepraat, maar hou in gedagte dat die jonger wyne gewoonlik baie tannien bevat en dus saam met iets geëet moet word wat effense rokerige geure het, bv. braaivleis…ons is mos darem trots Suid-Afrikaans,so haal maar die Pinotage uit.


