Posted on 09 July 2011

Die VLV-tak op Kuruman probeer gereeld help om diegene wat nood het, se omstandighede te verbeter. Onlangs het 3 lede van die bestuur sop en broodjies geneem na die Emmanuel dagsorgsentrum op Wrenchville net buite Kuruman. Dit is ongelooflik met hoeveel deernis Ms Lena Moos en Maria Foster die kinders, wat elkeen op 'n manier met 'n gestremdheid moet saamleef, hanteer en versorg.

Hulle doen dit ook sonder om vir aalmoese te vra en kom met min oor die weg, in 'n buitevertrek en klein kombuisie van 'n kerk in Wrenchville.

 

Ons het opgemerk dat die vertrek baie koud is en almal was in 'n kringetjie om die verwarmer. Almal het darem lekker warm klere aangehad. Ons het verder voorgestel dat ons hulle wil help deur byvoorbeeld geld in te samel vir 'n radio of CD-speler, want met behulp van musiek kan hulle baie meer aktiwiteite met die kinders doen. 'n Hele paar kinders was die dag afwesig weens die koue en ook omdat hulle nie vervoer het na die sentrum nie. Komberse en kussings om op te sit op die mat sal ook welkom wees, asook springtoue en tennisballe vir buite-aktiwiteite.

Me Maria Foster het genoem dat plakkate en karton welkom sal wees om op te verf en teken, en die VLV-lede wil breekware bymekaarmaak sodat die kinders elkeen hul eie beker en bord kan gebruik. Hulle kan binnekort na 'n nuwe perseel verhuis, maar die krag moet aangesluit word en daar moet nog 'n veilige omheining opgesit word. Hier praat ons van groot bedrae wat die gemeenskap mee sal moet help.

   

Dit raak 'n mens diep om te sien dat hierdie twee engele, saam met hul helpers Elzaan Steenkamp, Rochelle Foster en Ursula Abrahams soveel vermag met so min tot hul beskikking. Dit is 'n groot troos om die kinders so gelukkig te sien en te weet dat hulle potensiaal ontwikkel word en dat hulle bedags veilig is by iemand wat omgee!

  

Die volgende week het lid Frances van der Merwe, die radio gaan installeer wat sy geskenk het, en ons het saam met die kinders gedans en gesing: “Thank you Jesus, thank you thank you Jesus!” Nuwe komberse is geskenk en die kussingprojek vorder fluks.

  

Dit is baie lekker om betrokke te kan wees by iemand wat elke klein gebaar waardeer!

 

Op die foto van links helpers Elzaan Steenkamp, Rochelle Foster en Ursula Abrahams, en agter is Me Lena Moos, Lelani van Straten met Dione op die arm, Petro Spangennerg, Carol de Villiers en Maria Foster met een van die kinders.

  

  

Leerders en personeel dans van blydskap oor die nuwe radio/CD speler wat Mev Frances van der Merwe (regs agter) geskenk het.

 

  

 

Comments are closed