Portefeulje: Opvoeding & Kultuur
Beriggewer: Petro Greeff
Op ‘n heerlike koue, maar vars, oggend het tien van ons VLV lede ons dorp verken en op die wonderlikste mense en plekke afgekom. Ons het die plaas slaghuis van Anna Cillie besoek en self gesien hoe word die varkvleis bewerk. Die slagter, Robbie Coetzer,is die man aan stuur van sake daar en het ‘n span mense wat baie bekwaam en gewillig is om aan enige versoek te voldoen. ‘n Varknek is ontbeen en ‘n ribbetjie is ook voorberei, net reg vir die sousie om gebraai te word. Ons het maar lippe gelek, maar nie vir lank nie, want Anna kom toe met ‘n bord vol gebraaide varkwors en Russiese wors om ons kwylmonde en grommende mae te red.
By Dalene Buckle se gastehuis en konferensiesentrum het ons heerlike pannekoek geëet, koffie en tee gedrink en die uitsig bewonder. Daar kan klein onthale gehou word, ideaal vir mense wat plek soek vir ‘n intieme geleentheid. Nege dubbelkamers maak voorsiening vir 18 gaste, elk met sy eie buitedeur en parkeerplek. Voorwaar ‘n gastehuis waar elkeen spesiaal sal voel en altyd sal wil terugkom.
Ons volgende stilhou plek was Boland Drukpers, maar ook net daar het die stilte opgehou. Oom Boetie Theron, soos hy in Wellington bekend staan, het die drukpers so amper 50 jaar gelede begin met R3000 wat hy geleen het. Vandag is die drukpers ‘n besigheid waarmee ander drukkers moet rekening hou. Daar is van die nuutste masjiene en rekenaars - ons monde het behoorlik oopgehang in verwondering vir dit wat daar gedoen word. Etikette, blikkieskos se omhulsels, CD en DVD se omslae, om maar net ‘n paar te noem, word daar gedruk.
Mrs Ball’s blatjang se etiket sal nooit weer vir my sommer net nog ‘n etiket wees nie, dit verteenwoordig my dorp se nommer een besigheid!!

Johnny die slagter, Magdeleen die regterhand van almal, Anna Cillie en Robbie Coetzer in Vrugbaar se slaghuis.

Oom Boetie Theron van Boland Drukpers saam met 'n paar VLV lede. Regs van hom sit Hettie, ons toergids by die drukkers.