Posted on
19 July 2011
Portefeulje: Opvoeding & Kultuur
Beriggewer: Petro Spangenberg
Op die laaste vergadering van die eerste helfte van 2011, het die studierigting Opvoeding en Kultuur aan die beurt gekom. Mev Annatjie Nel het op ‘n gepaste wyse geopen uit Woorde van wysheid vir Ma’s.
Me Marelie Keuler is ‘n kenner op die gebied van remediërende onderwys en het uit haar jare lange ondervinding gepraat oor waar ons tans in die onderwys staan. Kinders word maklik deur ‘n ouer of onderwyser geëtiketteer bv: “Jy sal nooit wiskunde kan doen nie!” en dit het ‘n geweldige negatiewe uitwerking op sy of haar vermoëns. Leerders wil geprys en aangemoedig word, en weens die werklas en administratiewe pligte van onderwysers, raak dit al moeiliker om persoonlike aandag aan elke leerder te gee. Sy vertel ook van die toepassing van kleur om disleksielyers makliker te laat studeer.
Kinders soek riglyne en reëls en ouers bly primêr verantwoordelik vir ‘n kind se opvoeding en geluk. Ouers maak ‘n groot fout as hulle ‘n kind se skooltaak namens hom doen. Op ‘n vraag of ouers moet help met huiswerk, en tot op watter ouderdom, het Me Keuler gesê ouers moet kontroleer of huiswerk gedoen is. Dit bly egter die kind se plig om verantwoordelikheid te aanvaar en pligsbesef aan te leer.
Kinders verskil egter en ouers sal weet watter kind langer gehelp moet word. Me Karien Booysen en Marinda Stander het ook gepraat uit hul onderwysondervinding en sê kinders moet so vroeg as moontlik leer om selfstandig te wees. Respek vir ouer mense en onderwysers bepaal ‘n kind se gedrag by die skool en ouers moet opbouend praat oor onderwysers en skoolaangeleenthede. Kinders is navolgers van die voorbeeld wat tuis gegee word.
Kuruman VLV spog met ten minste 17 lede wat in die onderwys betrokke is of voorheen was.