Posted on
24 July 2011
Portefeulje: Opvoeding & Kultuur
Beriggewer: Rina Coreejes
Twee lede en een oudlid van De Aar tak het meer kom vertel van die lande waar van hul kinders tans woon.
Estelle Hugo se dogter woon al 3 jaar in Dubai waar sy ‘n bourekenaar is. Sy het ons vertel dat die gemiddelde somertemperatuur in die somer bo 45° is maar dat die wat in kantore werk nie eers bewus daarvan is nie a.g.v. die goeie lugversorgers. Die winter temperatuur is so 23° wat natuurlik perfek is. Dit is ‘n Moslem land, maar 80% van die inwoners is nie burgers van die land nie. Die uitbreidings in die boubedryf is ongelooflik. Al die boumateriaal moet ingevoer word, want in die woestyn is niks beskikbaar nie.

Estelle Hugo
Hester Venter het ons vertel hoe haar kinders al die afgelope 20 jaar in Kanada woon. Hulle woon in die provinsie van Albertha in die Rocky-gebergte en daar is ongelooflik baie mere. Dit is natuurlik in die winter alles gevries. Die foto’s wat sy gewys het van een van die warmwaterbronne was prentjie mooi. Die verskil tussen die foto’s wat in die winter en die wat in die somer geneem is, is ongelooflik. Sy het al op haar eie 3 keer Kanada toe gereis en dit neem ongeveer 24 uur om daar te kom, wat baie uitputtend is.

Hester Venter
Laastens het ons saam met Annatjie Erasmus in Amerika gaan kuier. Haar seun is met ‘n Amerikaanse meisie getroud en hulle is die trotse grootouers van 4 seuntjies! Annatjie het ons vertel hoe groot die land is en dat dit in verskillende tydsones gedeel is. Met een van hulle besoeke het hulle in New York gekuier en was verstom oor hoe GROOT alles in die wêreldstad is. ‘n Interessante feit is dat die Amerikaners, as hulle iets nie meer nodig het nie, dit op die sypaadjie sit en as jy dit kan gebruik, vat jy dit. Wat ook besonders opvallend is, is dat die land baie skoon is. Jy sien nie papiere rondlê nie.

Annatjie Erasmus
Ons het behoorlik aan hulle lippe gehang!