Portefeulje: Vele
Beriggewer: Mette Kromhout
Murraysburg tak se interessante pot-pourri vergadering van 27 Julie, bygewoon deur ‘n aantal “vreemde narre”, het die dames geheel en al van die koue laat vergeet.
Daar was iets vir elkeen. Margaret Booyse se demonstrasies van resepte uit Kareebosch se toetskombuis het die gebruik van skilferkorsdeeg, die maak van ‘n verrassingsbroodjie en ander kitsgeregte maklik laat lyk, terwyl Renée Louw se demonstrasie van springmielies in ‘n mikrogolfoond gemaak ‘n treffer was.
Alna Theron, wie se kreatiwiteit geen einde ken nie, het bewys dat daar met beplande knip en knoop ‘n snoesige, duursame kombers gemaak kan word, terwyl die ma’s en oumas gaande was oor die spoegdoeke en lampskerms vir die babakamer.
Navorsing gedoen deur Lina van der Berg oor die redes waarom so baie jongmense in die buiteland woon en werk, het die lede laat besef hoe baie kosbare mensepotensiaal ons land verloor en daar is behoorlik saamgedrom voor die aansteekbord met foto’s van die gemeenskap se jongmense in die buiteland.
Aldus Elsie Smuts se verslag gaan die Murraysburg boekklub van krag tot krag en die lede het Alida Pienaar, wat saam met Charl Conradie ‘n boek oor Murraysburg en sy geskiedenis geskryf het, se berig oor die hele proses van inligting insamel, skryf en die drukproses uiters interessant gevind. Die boek word op 27 Augustus in Murraysburg bekend gestel.
Verskeie dames het van hulle kreatiewe handewerk te koop aangebied terwyl 338 gebreide blokke vir die komberse vir kankerpasiënte ingehandig is.

Hannelize, Maretta, Rialeen en Kay.

Die een met die pienk veer in die hoed is Dorees.

