Posted on
02 August 2011
Portefeulje: Landbou & Tuinbou
Beriggewer: Riana Richter
Die lede van VLV Piketberg het onlangs besoek afgelê by die plaas Herculesfontein van Chris en Jeanette Richter. Voedseltegnoloog Willem du Plessis het die lede deur die aartappelskyfie-fabriek van die Richters geneem. Du Plessis het verduidelik hoe die vervaardigingsproses werk en ook die baie streng vereistes – soos higiëne en voedselveiligheid - waaraan ‘n produsent moet voldoen voordat ‘n produk op die rak beskikbaar is, beklemtoon.
Die fabriek produseer 24 uur per dag van Maandag tot Vrydag. Vier jaar gelede het Piketberg Landbouvereniging ‘n entrepreneurstoekenning aan Chris, bekende graan- en veeboer in die distrik, oorhandig. Die Richters verskaf hul heerlike reeks aartappelskyfies eksklusief aan Woolworths.
Op die foto verskyn Willem du Plessis, voedseltegnoloog, voor in die middel saam met die groep Piketberg VLV vroue. Louwna Hoving (president Sirkel Weskus) het die uiutstappie meegemaak. Sy verskyn heel links in die middelste ry. Heel regs voor verskyn Marlize Rossouw, sameroeper van die afdeling Landbou en Tuinbou wat die middag gereël het.
