Posted on 03 August 2011

Beriggewer: Lorraine Du Toit

 

As takprojek het die lede van VLV Bredasdorp vanjaar kombersies gebrei en gehekel en het ons in samewerking met Kindersorg op 21 Julie veertien kindertjies se hartjies bly gemaak toe ons die kombersies by die Graad R-klassie by die EK Primêre Skool op Ouplaas, in die distrik Bredasdorp, gaan uitdeel het. Die dames van Kindersorg het eers aan hulle ‘n poppekasvertoning gelewer oor die keuse wat hulle het wie aan hulle liggame mag vat. Amanda Beyers, een van ons bestuurslede, het toe aan elke kindjie ‘n kombersie en ‘n lekkergoedpakkie gegee en aan hulle verduidelik hoekom elke kombersie anders lyk – omdat hulle elkeen UNIEK is. Hulle het daarna vir ons ‘n dansie gedoen om dankie te sê.

 

Na die skoolbesoek, het ons ook ‘n groepie plaasvrouens van die Huisvroueklub op die plaas, Komarsekraal, besoek waar ons aan hulle wol en breipenne oorhandig het sodat hulle vir hulself ‘n sak kan brei. Ons het hulle gewys hoe om steke op te sit waarna ons heerlik saam met hulle koekies en koelderank geniet het. Verstommend om te sien hoe ‘n blinde vrou steke opsit en sommer fluks begin brei – beslis ‘n geval van: “waar ‘n wil is, is ‘n weg”!

 

Die blydskap op die kindergesiggies en die vreugde van die plaasvroue oor die wol wat hulle ontvang het, maak alles beslis die moeite werd.

 

 

Amanda Beyers (sameroepster van Gesondheid) en Lorraine du Toit (voorsitter) saam met die kindertjies wat kombersies ontvang het.

 

 

 

Die plaasvrouens van Komarsekraal Huisvroueklub besig om te brei aan hulle sakke.

Comments are closed