Posted on 27 August 2011

VLV STRAND 1931 – 2011

Die grootste tak van VLVK het op Dinsdag 23 AUGUSTUS 2011 op feestelike wyse hierdie mylpaal gevier. Die tak is op 21 Augustus 1931 deur mev Jossie Ackermann gestig.


Die voorsitter het in haar oorsig oor die geskiedenis van die tak genoem, dat ‘n tuin daardie dag uitgelê is deur 19 dames – die tuin se naam was VLV STRAND. Die tuin is bemes en plante is geplant. Sommige bome en plante het doodgegaan of moes uitgehaal word, maar die meeste het gegroei en sterk plante geword en gee plesier en vervulling aan baie lede.. Die tak se ledetal het vinnig gegroei en ‘n jaar na die stigting was daar 60 lede. Die 100ste lid sluit in 1943 aan. Tans het die tak 135 lede.

Die lede kon hul verlustig aan pragtige uitstallings van enigiets uit die verlede oa ‘n grammofoon wat nog opgewen word en plate speel. Die musiek het menige traan laat vloei.. Elke notuleboek vanaf 21 Augustus 1931 het behoue gebly en is uitgestal. Plakboeke met fotos en knipsels van elke vergadering sedert die vyftigerjare is uitgestal en die lede kon met nostalgie deur alles blaai.


‘n Maaltyd met o.a. bobotie, pampoenkoekies en souskluitjies as nagereg, het almal laat terug verlang na “ma” se kombuis!!! Die tafelrangskikkings en ander versierings asook die blomme in die saal, het ‘n atmosfeer van deftig wees, geskep. Die verjaarsdagkoek in die vorm van ‘n boek met die VLV embleem, was ‘n meesterstuk deur Annette Stander. Die violis Francois Voges het gesorg vir ‘n musiekuitvoering van hoogstaande gehalte.


‘n Bundel, 80 Goue Jare, is saamgestel deur Annemarie Skibbe en beskikbaar gestel aan die lede. Al die lede het die afgelope jaar die geleentheid gehad om ‘n bydrae tot die boek te maak. Voorwaar iets baie besonders.


Dit was ‘n dag wat nog lank deur die lede onthou sal word. 105 lede van die tak het die feestelike oggend bygewoon en 35 gaste en lede van ander takke in Sirkel Kaapstad was teenwoordig om saam met VLV STRAND fees te vier.
 

Beriggewer: Annemarie Skibbe

 

 

Mevv Annette Stander & Maretha Badenhorst by die spesiale koek wat Annette vir ons 80ste verjaardag gebak en versier het! 

 

 

 

Mev. Wena van Wyk, oud-voorsitter, stel die heildronk in.

 

 

Ons feesuitgawe om ons 80ste bestaansjaar te herdenk.

 

 

 

Mev. Ena van Blommenstein, voorsitter van Plumstead, wens Strand tak geluk.

Comments are closed