Posted on
08 September 2011
Portefeulje: Opvoeding & Kultuur
Beriggewer: Marietta van Manen
Dit is elke vrou se reg om menswaardig en met respek behandel te word. Só sê mev. Denise Robinson, LP en skaduminister vir vroue, kinders en mense met gestremdhede. Mev. Robinson was die gasspreker by ‘n geleentheid wat deur die VLV Durbanville aangebied is.
Hoewel die Grondwet bepaal dat alle mense gelyk is, is dit egter so dat binne sommige gemeenskappe en kultuurgroepe die vrou steeds ‘n mindere posisie beklee , soveel so dat sy soms weinig beter behandel word as ‘n besitting van die man, het sy gesê, en dan word geweld “aanvaarbaar”. Om so ‘n diepgewortelde persepsie om te keer, is ‘n formidabele taak en dit is nodig dat sowel die man as die vrou opgevoed word met die begrip dat die vrou nie ondergeskik is nie, maar ‘n mens wat die reg het om binne ‘n veilige omgewing tot haar volle potensiaal te ontwikkel. Die klein begin, het mev.Robinson gesê, is binne die gesin waar seuns van kleinsaf moet leer om hul ma en susters te respekteer en hulle dieselfde geleenthede te gun as wat wat die pa en seuns vir hulself toeëien.
Mev. Robinson het oudpresident Nelson Mandela aangehaal wat gesê het dat ware demokrasie eers kan bestaan wanneer vroue bevry en bemagtig is. Bemagtiging behels onder meer geletterdheid en opleiding, erkenning van potensiaal en die reg van ‘n vrou om besluite te neem oor haar liggaam en leefwyse, het sy gesê. Mev.Robinson beskou dit as ‘n voorreg om haar vir die verwesenliking van die ideal van bevryding en bemagtiging te bewywer.

By die gasspreker, mev. Denise Robinson (voor), is agter, van links, mev. Annette Conradie, voorsitter VLV Durbanville, mev. Caro Ekermans, president Sirkel Tygerberg, en mev. Marie Louw, vorige president Sirkel Tygerberg.