Portefeulje: Leefstyl
Beriggewer: Petro Spangenberg
Kuruman tak se September vergadering het leefstyl kwessies aangespreek.
Dit was in almal se belang om te hoor wat etiket en maniere behels, en veral jong ma's moes hoor hoe jou kind mense moet aanspreek en goeie maniere moet aanleer omdat eerste indrukke dikwels die meeste tel. Mev Marianne Vorster het voorgelees uit Emsie Schoeman se Etiket en Goeie Maniere.
Brugbou is 'n tema wat baie uitdagings inhou en almal is aangemoedig om moontlike geleenthede uit te wys. Die matrone van Kuruman se Tehuis vir Bejaardes, mev Elsabe Hennig het gepleit dat kinders tog hul ouers moet besoek omdat dit soms die enigste skakeling is wat oues van dae met die buitewêreld het, en sin gee aan hul bestaan.
Werkgewers is ook aangeraai om goeie verhoudings met werknemers te hê deur byvoorbeeld 'n familielid se begrafnis by te woon, wat wedersydse respek sal teweegbring, ten spyte van groot kultuurverskille.
Sommige lede het gekla oor die huispryse en huur wat so buitensporig geraak het, en huiseienaars gemaan om veral jongmense wat die mark betree, in ag te neem.
Tien lede van Olifantshoek het die vergadering bygewoon en Marianne Goosen, voorsitter van Olifantshoek tak, het beklemtoon dat ons meer interaksie tussen takke moet bewerkstellig en sodoende van mekaar leer! Brugbou, selfs tussen sirkels, bring hegte vriendskappe en so leer takke by mekaar.
Dit was natuurlik Kuruman se 78ste verjaardagviering en die vonkelwyn het behoorlik gebruis. Een van Kuruman se oudste lede, mev Susan Sargeant het as 88jarige vertel van haar 42 jaar as lid by Kuruman, en hoeveel geleenthede sy gebruik het om as mens te groei en te kompeteer!
Die kleuters van Miekie en Minnie Kleuterskool het onder leiding van hul hoof, Mev Elma Coetzee, hul trompoppie-passies foutloos uitgevoer.
Die demonstrasie was van 'n eenplaat stofie wat Mev Ans Swanepoel en haar dogter Marinda Fourie van Danielskuil gedoen het. Hierdie stofie het verskeie temperatuurstellings en jy beheer hoeveel elektrisiteit jy gebruik. Dit kook water aansienlik vinniger as 'n ketel.

Die sportiewe Springbok ondersteuners van Olifantshoek saam met Anet Hennig en Annatjie Nel van Kuruman.

Trompoppie-kleuters van Miekie en Minnie Kleuterskool.
Voor: Sannie Barnard, Marianne Goosen (voorsitter Olifantshoek) P. Spangenberg, Tilly TerBlanche.
Agter: Besie Kriek, Norma Snyman, Marie Jacobs, Sylvia Terblanche, Hanlie Oosthuizen, Adri Reynecke, Elma Storm, Ina Pretorius, Marelie Keuler.