Portefeulje: Opvoeding en Kultuur
Beriggewer: Sue
Datum: 6 Oktober 2011
VLV lid, Ita van Zyl, was die spreker tydens Orania tak se Oktober vergadering.
Skoonheid lê elke vrou na aan die hart. Vroue van alle kulture gaan tot groot uiterstes om met die eretitel van “mooi” bekroon te word.
Ons vind reeds in die vroegste beskawings bewyse van die belangrikheid van skoonheid. Dink maar aan die Egiptiese prinses, Neferetiti wat in 1346 v.C. geleef het. Sy en haar ses dogters het elegante, verlengde koppe gehad – so gevorm deur drukking op die babakoppie. Nader aan die moderne siening van skoonheid is Cleopatra, alombekend as een van die mooiste vroue wat geleef het. Haar skoonheid was gekenmerk deur dramatiese en kontrasterende grimering.
Nog ‘n interessante vorm van skoonheid is die Padaung-vroue van Burma wat hulle nekke verleng deur metaalringe om die nek te sit. Die Pedi-vroue in Suid-Afrika het dieselfde gebruik.
Die Musi-vroue van Etiopië sit skywe in die onderlip. Hierdie skywe word geleidelik met groteres vervang en so kan ‘n volwasse vrou se lippe tot sestig sentimeter verrek word! Vir ons lyk dit aardig, maar vir hulle ‘n teken van groot skoonheid, eer en respek.
‘n Swart stam in Afrika maak tydens inisiasie insnydings in die rûe van seuns en dogters. Hierdie wonde word dan met as gevryf sodat dit sweer en littekens maak. Hoe growwer jou rug, hoe mooier is jy!
Die Japannese beoefen ‘n baie interessante kunsvorm van tatoeëring waarvolgens die hele vel getatoeëer word en as groot skoonheid beskou word. Velversamelaars betaal astronomiese bedrae vir hierdie pragtige “kunswerke” wat hulle dan as versamelstukke bewaar.
‘n Meer bekende Japannese gebruik is die opbind van voete. Dit staan bekend as die Lotusvoet. Hoe kleiner jou voete, hoe mooier is jy. Hoe meer kunstig die voet gevorm is, hoe hoër word die vrou geag in terme van status en skoonheid.
Ons Westerse kultuur vereis gelukkig nie dat vroue hulself aan allerhande pynlike prosedures moet onderwerp om as mooi beskou te word nie. ‘n Goed versorgde vrou is ‘n mooi vrou! Dit is ons taak om ons dogters (en onsself as dit nodig sou wees) so op te voed dat ons/hulle sierrade in die gemeenskap sal wees, wat oor innerlike sowel as uiterlike skoonheid sal beskik. Albei is immers Godgegewe!