Posted on
05 November 2011
Portefeulje: Kunste & Handvlyt
Beriggewer: Petro Greeff
Wellington se VLV dames het 'n besonderse Oktobervergadering gehad met ‘n uitstappie na La Motte in Franschhoek.
Ons het met ons privaat limousines vrolik en geselsend deur die pragtige omgewing na die wonderlike mooi dorpie gery en amper te gou was ons daar. Toe ons eers daar aankom, wou ons rooi lippe net oophang van verwondering. Die tuine is tot in die fynste besonderheid versorg, selfs die blare wat val weet presies waar om te gaan lê! Die geboue word so skoon en netjies gehou, dis iets om van te droom.
Ingrid het ons meer vertel van Dr Anton Rupert en sy vrou se werk om ons Suid-Afrikaanse skilder Pierneef se skilderye te bewaar. Daar is ook 'n baie interessante storie soos dit met baie kunstenaars se lewe maar is. Pierneef het net een dogter Marita en sy het na Engeland ge-emigreer tot haar pa se groot hartseer. Sy het net een seun wat 'n wêreld swerfling is en glad nie belangstel in sy oupa se kunswerke nie. Tot Marita se groot vreugde het die Ruperts besluit om dit aan te koop en te bewaar vir ons land. Voorwaar 'n uitstekende gedagte gewees, ons eie kuns op ons eie grond!
Daar is 43 kunswerke van Pierneef (1856 - 1957) in die galery. Sommige sketse wat hy vir sy dogter gemaak het, ander weer wat tot die hart van elke ander mens spreek. Daar is net 4 werke wat oorsee gemaak is tussen al die ander wat plaaslik gedoen is. Pierneef se oorspronklike esel en 'n pot met sy verfkwaste is deel van die uitstalling.
Toe vir die groot lekkerte, ons gaan eet in die Pierneef à La Motte Restaurant. Ja, heerlike kunswerk-kos op 'n stoep met reuse vensters wat vir ons die illusie gee dat ons buite in die tuin sit. Die kelners loop op sagte skoene, verskyn soos vlinders met tee- en koffiepotte EN heerlike warm melk vir die wat dit verkies. Saggies word ons 'n keuse gebied vir nagereg, ons kan kies tussen gebakte kaaskoek en appeltert met neute. Ai, hoekom kan ek net èèn kry? Voor die nagereg kry ons elkeen ons eie quiche met 'n klein bakkie vars slaai. Natuurlik lyk dit soos 'n stukkie kunswerk. Ek wonder net wat my ma sou gesê het van die plankie waarop dit bedien word, maar ek is seker sy sou dit met styl aanvaar het net soos ons het, so asof ons elke dag op 'n plank by die huis eet!!
En hoe anders kan ons die dag afsluit as met 'n besoek aan die winkeltjie net langs die restaurant? Daar is outydse geskenkkaartjies, resepteboeke, voorskote, brode, koekies en nog 'n duisternis ander produkte wat roep om gekoop te word. Toe moes ons, ons losskeur van die mooi plek om weer huiswaarts te keer. Vol
magies en vol mooi goed in ons gedagtes waarop ons nog lank sal teer.