Posted on
09 November 2011
Portefeulje: Gesondheid
Beriggewer: Petro Spangenberg
Mnr Johan Coetzee, oogkundige by Eye Catchers op Kuruman, is passievol oor sy werk. Met behulp van 'n skyfievertoning het hy gewys van al die aanpassings wat in Optometrie gedoen kan word om sigprobleme reg te stel. Hy beklemtoon dat skeelogies by kinders teen die ouderdom van 5 jaar reggestel behoort te word en ook dat ons nooit die oor-die-toonbank oogdruppels moet gebruik nie. Mens slaap ook nie met kontaklense nie aangesien die oog suurstof nodig het en 'n fyn balans van vog gehandhaaf moet word. Gereelde handewas help dat ooginfeksies nie so maklik versprei nie. Pas jou oë op, laat oogdruk gereeld nagaan en moenie veranderings in visie ignoreer nie - dit kan dui op ernstige toestande.
Mev Liza Burger en haar man Stoffel het onlangs 'n tak van Oasis water op Kuruman begin. Sy vertel van die voordele van osoonbehandelde water. Osoon kan na bewering bakterieë doodmaak en sekere virusse vernietig. Osoon help om die voorkoms van selluliet te verbeter en die water help dermgesondheid bevorder. Gee jou kinders 'n botteltjie water saam skool toe. Teen die tyd dat mens dors voel, is jy reeds sowat 10% ontwater, en dit kan in 'n kind se geval beteken dat hulle nie kan konsentreer nie en gedurig moeg voel.
Die vergadering is afgesluit deur die voorlesing van mev Erna Kruger van haar inskrywing van 'n plakkerskamptroue, 'n letterkunde kompetisie van die tak. Haar raak beskrywende skryfstyl het gesorg vir 'n spontane skaterlag van almal teenwoordig.

Mnr Johan Coetzee van Eye Catchers op Kuruman.

Mev Erna Kruger lees haar kortverhaal oor 'n plakkerskamptroue voor.