Posted on
13 November 2011
Beriggewer: Christel Viljoen
Die lede en vriende van Jongensklip VLV het Dinsdag 8 November 2011 die jaar afgesluit te Dasberg Gastehuis net buitekant Riviersonderend.
Die voorsitter Madelaine du Toit het almal welkom geheet en Ruby Cope het die vergadering geopen met skriflesing en gebed. Daarna het Sonette de Kock die jaarverslag gelees oor al ons doen en late gedurende 2011. En wat ‘n lywinge verslag was dit nie – van uitstappies, interessante vergaderings en sprekers, kongres en konferensies, kompetisies tot lede wat babas gekry het en selfs ‘n lid wat verloof geraak het (dit het laaaanklaaas in ons tak gebeur!).
Henriette Swart het vir ons ‘n boodskap gebring met die tema “bou ‘n brug”. Sy het dit baie effektief deurgetrek na ons hedendaagse take as moeder, vrou, versorger en as mens! Ons is baie geïnspireer vir die laaste pylvak van die jaar wat nog oor is.

Henriette aan die woord.
Die wisseltrofee is ook oorhandig en die volgende persone het trofee ontvang:
- Madelaine du Toit – Trofee vir gebak en die Trofee vir naaldwerk
- Christel Viljoen – Trofee vir kunste en handvlyt
‘n Besonderse prestasie was die oorhandiging van Corrie Fourie se 40 jaar kenteken. Corrie is vir ons ‘n aanwins en voorwaar ‘n voorbeeld om na te streef!
.JPG)
Madelaine en Corrie.
Die Vonkelvrou van die jaar is Christel Viljoen.
Daar is ook aan sewe van ons lede VLV suikerlepeltjies oorhandig vir 100% bywoning. Met sulke pligsgetroue lede kan enige tak die wa deur die drif trek!

Die bestuur vir 2012 is as volg:
Voorsitter: Madeleine du Toit
Visevoorsitter: Corrie Fourie
Sekretaresse: Sonette de Kock
Tesourier: Elbe Fourie
Sameroepers:
Kunste en Handvlyt: Christel Viljoen
Opvoeding en Kultuur: Mecarla Kriel
Openbare Sake: Annelie Swart
Landbou en Tuinbou: Saret du Toit
Leefstyl: Corrie Fourie
Gesondheid: Matty van der Heyden

Nadat al die geheime vriendinne hulle geskenkies uitgeruil het en heerlik gelag het oor al die verrassings, het ons aan ‘n heerlike ontbyt weggelê wat voorberei is deur Landi Viljoen van Dasberg Gastehuis.
Voorwaar ‘n heerlike oggend om ‘n besige en vol VLV jaar mee af te sluit!
Ek hoop die lede van Jongensklip rus heerlik uit, natuurlik as al die manne eers klaar geoes is, en kom 2012 terug met hope energie! Ons gaan dit nodig hê vir die konferensie in Maart 2012!