Posted on
07 December 2011
Beriggewer: Annemarie Skibbe
Tydens Strand tak se afsluitingsvergadering het Erna de Waal, wat 'n paar jaar in Switserland gewoon het, die lede meer vertel oor die gebruike en gewoontes van die Switsers tydens Kerstyd.
Kersfees is ‘n Christusfees en ook ‘n kinderfees. Die kinders begin reeds in November uitsien na Kersfees, wanneer die koeie van die berge af gebring word. Dit lui die “Kersseisoen” in.
Kerstyd begin op die eerste Advent Sondag. Hierdie dag word deur die hele gesin gevier met die aansteek van die eerste Adventkrans, wat die gesin self gemaak het. Hierdie krans staan altyd op die eetkamertafel.
Op 1 Desember word die eerste deurtjie van die Advent kalender oopgemaak. Hierdie kalender lyk meer soos ‘n klein kassie met 24 deurtjies – elke dag word een oopgemaak. Agter elke deurtjie is ‘n klein geskenkie gebêre. Elke kind het sy eie, wat self gemaak is met die ouers se hulp. Dis ‘n lang wagtyd vir die kinders, maar dit word gesien as ‘n leerskool vir hulle om geduldig te wag vir ‘n beloning of geskenk.
Die 6de Desember is die volgende mylpaal: iemand aangetrek soos St Nicholas van ouds besoek die kinders. Elke kind by sy/haar eie huis! Tradisioneel het hy ook ‘n “metgesel” nl. Schwarze Peter wat ‘n swart sak saamdra waarin geskenkies is. Ouers moet eers bevestig dat die kinders soet was soos dit in sy boek opgeskryf is. Die kinders moet ‘n versie opsê of iets sing voordat hulle ‘n geskenkie kry. Teen hierdie tyd lê die wêreld al dik en wit van die sneeu. Tussen die huise word daar lanterns opgehang wat ‘n pragtige gesig in die aand is. In elke huis waar daar kinders is, word geskenkies self gemaak, ook die kouse wat opgehang word. Vroeër was die kind se eie sokkie opgehang. Kerstyd is nie ‘n tyd van groot geskenke nie. Dit moet immers in die kerskous pas!
Op 24 Desember word die Kersboom deur die ouers die huis ingesmokkel sodat die kinders dit nie kan sien nie en een van die ouers versier die boom agter geslote deure terwyl die kinders buite besig gehou word. Dit word met eenvoudige ornamentjies en kerse versier. Later die aand word die deur dan oopgemaak tot groot vermaak en verrassing vir die kinders. Die ete op die 24ste is nie ‘n spesiale ete nie – dikwels net die Duitse Bratwurst of Alplermakkronen of gestoomde haas of tradisionele Switserse raclette. Daarna word om die boom vergader, Kersliedere gesing, die Kersverhaal uit die Bybel gelees en geskenke uitgedeel. Middernag gaan almal na die middernagdiens in die kerk, waarna hulle tuis warm sjokolade en groot “doughnuts” geniet.
Op Kersdag word die groot feestelike ete genuttig, gewoonlik in die middag. Families en vriende word besoek om goeie wense oor te dra.