Posted on 02 February 2012

Sirkel: Weskus
Tak: Langebaan
Datum: 1 Februarie 2012
Beriggewer: Estelle du Plessis

 
 
Ons eerste vergadering is gehou op 1 Februarie 2012. Die lede was almal baie opgewonde en bly om mekaar weer te sien. 4 Leerders van die Curro Privaatskool het 'n pragtige klassieke kitaar kwartet gelewer. Elke saamroeper het haarself voorgestel aan die vergadering en genoem wat sy beplan vir haar vergadering dié jaar. Dottie Visagie, Landbou & Tuinbousaamroeper het baie interessante inligting gegee oor die bome van die jaar asook die voël van die jaar. Sy het foto's uitgestal van die bome met inligting daarby.

 

Kentekens is oorhandig aan Estelle du Plessis -15jr. en Elize Kleynhans - 15 jr. Aletta Heydenrych - 25jr.

 

Twee nuwe lede het aangesluit by die tak naamlik, Joey du Toit en Marita Crouss en 1 lid, Henriëtte Melck, het van 'n ander tak af oorgekom na ons.

 

Die res van die vergadering is gewy aan die finale reëlings van die 80ste Konferensie van Sirkel Weskus op 29 Februarie 2012. Almal is baie opgewonde en sien daarna uit om al die eregaste, by name die VLVK President, mev. Erika Lubbe, Sirkelpresident, mev. Louwna Hoving, ander sirkelpresidente en oudsirkelpresidente, die burgemeester van Saldanhabaai Munisipaliteit, me Rossil Jager, Sirkelbestuurslede en talle lede van die Sirkel te ontvang.
 
 

 

Die lede is baie opgewonde om die nuwe jaar te begin.

 

 

'n Klassieke kitaar kwartet van Curroskool - Langebaan lewer 'n pragtige item.

 

 

Kentekens ontvang: Estelle du Plessis,15jr., Elize Kleynhans, 15jr., Aletta Heydenrych, 25jr. (afwesig tydens neem van die foto).



Posted on 01 February 2012

Sirkel: NOK
Tak: Jamestown
Studierigting: Landbou & Tuinbou
Datum: 25 Januarie 2012
Beriggewer: Antionette van Pletzen

 

Jamestown se VLV het afgeskop met 'n Landboubyeenkoms wat baie interessant aangebied is deur Lucia Lieberum. Sy het inligting gegee oor die Bome van die Jaar, nl. die Waterbessie, die Rooiboekenhout, en die Swartwortelboom. Die voël van die jaar is die Swaeltjie. Wenke oor die uitplant van vetplante is gegee: Die plantjie moet eers ± 2 weke bo-op die grond in skaduwee lê om wortels te vorm vóór dit geplant word. Raad oor groente- en blomtuine is gegee. 'n Potplant kan bv. buite in 'n boom in 'n lemoensakkie opgehang word. Potplante wat hoog staan (of tydens die vakansie stadig moet water kry) kan maklik natgemaak word met 'n plastiese bottel vol water, met 'n pypie wat deur 'n gaatjie in die prop gaan. Suig die water net effens na vore.

 

Lucia het die nuwe lone wat vanaf 1 Maart in werking tree, bekendgemaak, en lede ook aangemoedig om hul werkers te leer om huisgodsdiens te hou, toebroodjies vir hul kinders vir pouse in te pak, en ander menswaardighede toe te pas. Honde se komberse moet gereeld in growwe sout gewas word teen vlooie. Growwe sout kan ook in hul slaaphok gestrooi word. Vir babahondjies kan 'n mengsel van ½ koppie volroommelk en ½ koppie eiergeel verhit word en met 'n botteltjie ingegee word. Klein katjies kan dieselfde mengsel kry, maar voeg 1 teelepel room en 1 teelepel glukose by.

 

Handri van Zyl het vertel hoe Vliegduiwe-boerdery werk, en almal was verstom oor die kostes daaraan verbonde! Mei - Oktober is broeityd, waarna die kuikens vanaf die broeihok na die vlieghok verskuif word. Junie - Oktober is vliegmaande, en 6 weke voor die eerste wedvlug begin die duiwe al oefen. Hulle volg 'n spesiale dieet en word ook ingeënt teen bv pokke. Vliegduiwe word o.a. volgens hul oogkleur gepaar (geel of wit óm die swart van die oog).

 

Philna van Pletzen het vertel van die sogenaamde "Wurmplaas", waar organiese wurms gebruik word om kompos te vervaardig in 'n kleinerige houer. Dié waterige kompos maak 'n merkbare verskil in tuine! Sy het ook uitgevind dat suiwer wol beter beskerming in koeëlvaste baadjies gee as die gewone kunsvesel. Sy het verduidelik hoe dit werk.

 

Veronica van Vuuren het  haar 25 jaar-kenteken ontvang.

 


 

Klein Jaco van Zyl geniet die teetafel die beste van alles!

 

 

Voorsitter Hilda v/d Walt (links) het die 25 jaar-kenteken aan Veronica van Vuuren oorhandig.



Posted on 31 January 2012

Sirkel:  Namakwaland
Tak:  Hantam
Portefeulje:  Kunste & Handvlyt
Saamroeper:  Kirsten Fourie
Vergaderingdatum:  20 Januarie 2012
Beriggewer:  Janine Brynard

 

Wetenskaplike studies bevestig dat kuns 'n genesende uitwerking op die liggaam het, deurdat dit 'n mens se fisiologie en ingesteldheid verander.  Dit ontlaai spanning, vernietig vrees en bevorder kreatiwiteit en inspirasie.  Kuns en musiek verander die brein se golfpatrone en affekteer die outonome senuweestelsel, hormoonbalanse en breinfunksies.

 

As ons daarop fokus om kuns en musiek deel te maak van ons daaglikse omgaan, sou ons baie gesonder gewees het.  Want kuns en musiek affekteer elke sel in die liggaam onmiddellik, wat 'n genesende fisiologie veroorsaak, wat weer die immuunsisteem verbeter en bloedvloei na die organe verhoog.   Daarmee saam verander dit 'n mens se ingesteldheid, emosies en pyndrempel.  Dit gee hoop en 'n positiewe lewensfilosofie wat 'n mens help om jou probleme te oorkom.  

 

Kuns, net soos gebed en genesing, kom van binne elkeen van ons.  Ons liggame word slegs deur ons eie immuniteit genees wanneer dit siek is.  Dit vereis egter soms 'n reis binne-in jouself, na waar jou emosies en gevoelens in jou siel weggebêre is, sodat jy kan groei en kan begin om jouself te genees.

 

Die eerste stap is om jouself as 'n kunstenaar te sien.  Vra jouself af wat jy wil doen.  Is jy dalk 'n skilder, 'n beeldhouer, 'n musikus, 'n digter, 'n storie-verteller of 'n danser?  Wou jy al iets doen waarvoor jy eenvoudig nie tyd kon kry nie, of was jy maar nog te bang om dit te doen?

Kry vir jou 'n spasie waarin jy jou kuns kan beoefen.  Kry dan alles wat jy nodig het.  Oriënteer jouself in jou nuwe spasie.  Neem nou die eerste stap en laat die proses self gebeur.  Die kuns sal jou wys wie jy is.  Dit word 'n teken van jou transformasie en uiteindelik jou genesing. 

 

Moenie in die strik trap om self die moordenaar van jou kuns-siel te wees nie, want elkeen van ons KAN wél 'n kunstenaar wees.  Hierdie onbekende aanhaling vernietig al die leuens oor kreatiwiteit:  "In one success a thousand failures lie forgotten.  But in one refusal to try, a thousand successes may prematurely die."

 

Hardus Visagie:  As baie talentvolle storieverteller van ons kontrei, leef Hardus Visagie sy kunstigheid uit en borrel dit sommer so vanself van binne. Die vrouens by die Hantam VLV Kunste & Handvlytvergadering het letterlik aan sy lippe gehang, veral toe hy die arme, sieklike oom Isak Visagie van Agterkop se briewe loop opdiep.  Daar was nie einde aan die oubaas se ellendes nie! Heelparty van ons eie skete en kwale is dan ook sommer weggelag.

 

 

Kunssinnig: Kirsten Fourie is Hantam VLV se Kunste en Handvlytsaamroeper. In Kleinplasie op Calvinia se lieflike tuin, het sy 'n pragtige vergadering aangebied, waaronder demonstrasies in 'foil art' en jik en swart ink.  Sy het ook seker gemaak dat niemand weer agter die verskoning van 'kannie' wegkruip nie, toe sy verduidelik het dat dit binne elkeen van ons lê om kunstig te wees.  Ons is dit ook aan ons liggame verskuldig, sodat ons daardeur kan gesond bly.

 

 

Kreatief: Terwyl rustige barokmusiek in die agtergrond speel, gee Jonita van der Merwe, Annalie Steenkamp, Riana van Niekerk en Margaretha van Eeden uiting aan hul kreatiewe emosies...

 

 

Eindprodukte: ...en die resultaat wys dat almal regtig kunstig KAN wees!

  



Posted on 30 January 2012

Sirkel: Weskus
Tak: Leipoldtville
Datum: 18 Januarie 2011
Beriggewer: Elsabe Carstens

 

Leipoldtville tak het Woensdag die 18de Januarie 2012, besluit om liewers die koelte op te soek en het die jaar met hul prysuitdeling begin. Die vergadering het plaasgevind by Red Rock in Lambertsbaai.
 

Daar was 4 lede wat kentekens ontvang het vir lidmaatskap, wat gewissel het van 10 tot 35 jaar.

 

 

LNR Tannie Meraai - 15 jaar, Elsabe Carstens - 10 jaar, Lida Slabber - 25 jaar en Cecile van Zyl - 35 jaar.

 

 

Elsabe Carstens oorhandig aan Madelein Visser haar toekenning vir die beste vergadering gehou. Sy is ook tans ons sekretaresse van die tak.


 

 

 

LNR Anne Laubscher, Elsabe Carstens, Madelein Visser en Tannie Meraai Visser is beloon met toekennings vir getroue bywoning.  Hierdie 4 dames het getrou ELKE vergadering bygewoon.

 

Tannie Meraai Visser het ook ‘n toekenning ontvang vir haar onskatbare bydra tot Leipoldtville tak. Sy is die lid wat in 2011 die meeste vir die tak gedoen het en alom groot waarde toegevoeg het tot die welstand van die tak en lede.

 

 

Elsabe het die toekenning aan Tannie Meraai oorhandig.



Posted on 29 January 2012

Sirkel: Noord-Karoo
Tak: Victoria-Wes
Datum: 21 Januarie
Beriggewer: Elize Perrin

 

Saterdag, 21 Januarie, is Vic-Wes tak se Potpourri vergadering aangebied.

 

Nadat die voorsitter geopen het, is Albertram Prins aan die woord gestel. Hy was verlede jaar hoofseun van Victoria-Wes Akademie en het sewe onderskeidings in die matriek eindeksamen behaal. Met die prestasie het hy uit die Quintile 2- skole, eerste op nasionale vlak geëindig en vierde in die Noord-Kaap. Hy is ook aangewys as beste Rekeningkunde leerder in die Noord-Kaap.

 

Albertram het gesels oor die uitdagings wat die onderwys vir leerders inhou gedurende hul skooljare. Twee uitdagings wat hy genoem het, is om jou selftrots te behou en gemotiveerd te bly. Volgens hom het leerders nie meer hoop nie. Hulle dink as hul grootouers en ouers arm was, moet hul ook maar arm bly. Nog 'n uitdaging is om jou Christenskap, skool- en sosiale lewe as eenheid te leef; dis nie drie aparte "lewens" nie.

 

Rhonnie Perrin het gesels oor hoenders en spesifiek skouhoenders. Hoenderboerdery het vier bene, nl: vleis, eiers, teel van (braai)kuikens en bewaring van die rasse. Laasgenoemde is die Suid-Afrikaanse Skou Pluimvee Vereniging. Hy het meer vertel oor die verskillende rasse en waarna beoordelaars kyk wanneer geskou word.

 

Na die manne het Alida Viljoen gesels oor pottebakkery en vertel hoe die klei gebrei moet word en wat die bakproses behels. Sy het ook voorbeelde gewys van verskillende artikels wat laerskoolleerders gemaak het. Alhoewel dit 'n duur aktiwiteit is, is dit baie bevredigend.

 

Lynette van Rensburg het meer vertel oor die plaaslike Dienssentrum en hulle aktiwiteite. Sy het die dames bo 60 jaar gemotiveer om by die "Golden Games" betrokke te raak. Dis baie pret en sodoende kry die senior burgers ook oefening.

 

Voordat die dames tee geniet het, is wenke gegee oor hoe om op te tree tydens 'n noodsituasie by ‘n ongelukstoneel. Die dames is ook herinner aan die Kuieroggend by die skou op 11 Februarie waar Karoostories deur woord en klank vertel gaan word.


Die persone wat tydens die Potpourri vergadering opgetree het: Lynette van Rensburg, Rhonnie Perrin, Albertram Prins en Alida Viljoen.

 



Posted on 26 January 2012

Sirkel: Kalahari
Tak: Vryburg
Beriggewer: Nellie Viljoen
Datum:  24 Januarie 2012
Studierigting: Opvoeding

 

Leandri Pienaar spreek die tak toe oor ouerskapstyle en hoe dit kinders kan beïnvloed.

 

1. Outokratiese opvoedingstyl
Hierdie ouers neem alle besluite namens die kind wat alle reëls blindelings moet nakom. Die kind word nie toegelaat om negatiewe emosies te openbaar nie, dit word gekritiseer of gestraf. Dit laat kinders minderwaardig voel en lei dikwels tot rebellie in die tienerjare.

 

2. Permissiewe opvoedingstyl
Ouers glo dat reëls en struktuur die kind se persoonlikheidsontwikkeling kan skaad. Die kind word vryhede toegelaat sonder om verantwoordelikheid te aanvaar. Ouers gebruik onderhandeling of omkopery i.p.v. dissipline. Die kinders is gewoonlik selfsugtig en respekteer niks en niemand.

 

3. Emosionele mentorskap opvoedingstyl
Ouers bied kinders die geleentheid om keuses te maak en verantwoordelikheid te aanvaar. Duidelike grense vir toelaatbare gedrag en gevolge van ontoepaslike gedrag word aan die kind gestel. Die kinders het genoeg selfvertroue en ‘n sterk selfbeeld. Ouers moet reageer op die kind se vrae, sy privaatheid en menswaardigheid respekteer.
Probleme ontstaan gewoonlik a.g.v. die opvoedingstyl wat toegepas word.
Erken die foute en kry kundige raad. Pas dit toe met liefde en dissipline.

 

Leandri het haar opleiding in psigologiese opvoedkunde ontvang en bied remediërende klasse vir kinders aan.

 

Nellie Viljoen demonstreer verskillende tegnieke om papier te maak deur afvalpapier te herwin. Week papiersnippers oornag en verpulp. Uie-, tee- en roosblare, gras- en afrikanersade en materiaalrafels kan gebruik word om verskillende effekte te verkry. Vir tekstuur kan papier op skadunet, goiing of growwe materiaal gedroog word.

 

 

Hester Pretorius, koördineerder van die vergadering, en Leandri Pienaar.

 

 

Nellie Viljoen.



Posted on 24 January 2012

Beriggewer: Alet Colyn

 

GOODWOOD het die jaar afgeskop met 'n heerlike potpourri vergadering.


Ses lede het hulle kunsvaardighede gewys en verduidelik hoe dit gemaak word. Gina Hutton het haar teddiebere gewys, Magdeleen Joubert het die dek van haar mooi teetafels gewys,  Zylia Fourie het 'n interessante webwerf met alles wat 'n vrou wil weet, aan ons bekend gestel. Wilna Swart het mooi kaartjies en blikkies gewys, Enola Venter wys haar juwele en Alet Colyn het haar découpage kersballe en borde gewys.

 

 

 

 

Lede tydens die vergadering - dis BAIE warm!

 

GOODWOOD SE ERELID, Jessie Sandilands-Nel is sedert 1944 lid van VLV. Sy het destyds by Beaufort-Wes aangesluit en haar eerste kompetisie-inskrywing was vars rose uit die tuin. Sy was sedert 1967 voorsitter en sekretaris en soms sommer penningmeester ook.

Erelidmaatskap is aan haar toegeken vir haar toegewydheid aan VLV en haar tak.  Ons respekteer haar vir haar volgehoue getrouheid aan die tak en al die waardevolle insette gelewer in die uitbou van VLV Goodwood.

 

 



Posted on 20 January 2012

Beriggewer: Maretha Bester
 
 

Die bestuur en lede van Parow tak wil graag hulself en die tak aan almal voorstel.

 

Parow tak het reeds in 2011 op luisterryke wyse die tak se 75ste verjaarsdag gevier. Ons is baie bedrywig en het sedert 2011 met byna 'n hele nuwe bestuur die wêreld van VLV vir die lede probeer oopmaak. Ons het 'n bestuursbesluit geneem dat ons dagbestuur van 2010 vir 3 jaar en die sameroepers vir 2 jaar verkies word. Ons bestuur beywer hulle daarvoor dat elke lid welkom en geliefd moet wees en betrek hulle by wat ons alles doen en beplan. In 2011 het ons 'n wegneemete, 'n Sondagete, 'n wakkerbly, 'n dinee vir die afskeid van 'n predikantspaar, deelname aan die basaar van 'n Sentrum vir Bejaardes, asook 'n kersete vir die inwoners aldaar, aangebied.

 

Direk nadat lede aansluit word hulle na 'n bestuurslid se huis genooi en word hulle toegelaat om vrae te vra oor aangeleenthede wat hulle nie verstaan nie, aangesien almal dalk nie so bekend is met ons vereniging nie. Deur gereelde maandelikse skriftelike afkondigings word die lede ook ingelig oor al die werksaamhede van die tak, sowel as die sirkel. Parow tak het tans 41 lede en dit is rede tot groot dankbaarheid, aangesien dit 'n stedelike aandtak is. ‘n Groot pluimpie tydens 2011, was die twee gassprekers wat op eie inisiatief gevra het om by die tak aan te sluit.

 

Die saal waar ons vergader, bied lede en gaste volkome veiligheid, maar tog is ons nie onverskillig as ons saans uitmekaar gaan nie. Verder probeer ons om verskeie lede die kans te gee om geleenthede by te woon, om almal gemaklik te maak met die werkinge van ons vereniging.

 

 

Bestuur vir 2012 is:

Agter LNR: Leoni Johnston (Openbare Sake), Marita Muller (Tesourier), Rene Honiball (Kunste en Handvlyt), Julia Nagel (Opvoeding en Kultuur/Visevoorsitter) en Petro Odendaal (Landbou).

Middel LNR: Elaine Duvenage (Sekretaresse), Mariette Strydom (Leefstyl - Naaldwerk) en Marietha Honiball (Leefstyl - Tuisteskepping).

Voor LNR: Maretha Bester (Voorsitter) en Adrienne de Kock (Gesondheid).



Posted on 12 January 2012

 

Correspondent: Juanique Vorster

 

After a busy festive season and some well deserved rest, the Vriendinne had another festivity to return to in January. We celebrated our very first birthday!!!!

 

As part of the celebration, we enjoyed some cake and drinks. Some work was also done, as we finalized our 2012 year program and competition articles.

 

The Vriendinne is looking forward to another action packed VLV year ahead.

 



Posted on 21 December 2011

Beriggewer: Lorraine du Toit
Datum: 21 Desember 2011

 

VLV Hermanus en Sirkel Overberg het ‘n ware blom verloor met die skielike afsterwe van Erna Visser op 14 Desember 2011. Erna was bekend vir haar pragwerk met blomme en was nog betrokke by feitlik al die ongelooflike mooi massa-rangskikkings tydens die 2011 Kongres te Villiersdorp en was ook een van die beoordelaars by die Blommekuns-afdeling. Erna was ‘n VLV-lid vanaf 1987 toe hulle op Hermanus kom aftree het. 

 

Erna het op Hermanus grootgeword en was getroud met Theuns. Sy was ‘n onderwyseres en was tot voor haar onlangse hartklep-operasie nog op ‘n deeltydse basis by die Hoërskool Hermanus betrokke. 

 

Erna was ook baie betrokke by die Overstrand-gemeenskap en -skole en het al hulle blommerangskikkings vir spoggeleenthede gedoen. Sy was ook ‘n gerespekteerde lid van die Blomme Gilde in Somerset Wes.

 

Sy is tydens Konferensie 2011 deur Sirkel Overberg vereer vir haar jarelange toewyding om Blommekuns in die Overberg te bevorder. As kundige beoordelaar by sirkelkonferensies en aanbieder van ontelbare demonstrasies en kursusse, het Erna haar liefde vir die skoonheid van blomme uitgeleef en oorgedra op veral die VLV-lede van die Overberg. Sy word met hartseer gegroet, want die verlies van sò ‘n steunpilaar is ontsaglik groot.

 

Categories