HANTAM VLV OPVOEDING en KULTUURVERGADERING
Die meeste van ons, kan met pure nostalgie terugdink aan daardie heel eerste skooldag, ver in ons stowwerige geheues. Dalk het jy met 'n oorgroot skooltas in die hand, splinternuwe skoolrokkie of -broek, 'n haasbekkie en bokstertjies in die voortuin gestaan en bewerig geglimlag vir pappa se kamera om dié geskiedkundige oomblik te verewig. En daarmee saam duik die herinneringe aan die graad een juffrou wat voor in die klas gestaan het op, wat ontelbare male die letters en klanke ingedril het by haar gretige groot-ogies.
Maar tog is daar heelparty mense, wat eerder terugdink aan die tallose kere wat hulle rooigesig moes vra vir aanwysings of verduidelikings, omdat hulle eenvoudig net nie kon lees wat in die mengelmoes vreemde letters voor hul oë gestaan het nie. Die Hantam VLV vroue het tydens Sharon van der Merwe se Opvoeding en Kultuur vergadering, weereens besef hoe dankbaar ons moet wees vir die geleenthede ons gegun.
Elize van Niekerk, het einde 2009 volwasse opvoeding onder werklose, ongeletterde mense van Calvinia gedoen. Dié gratis drie maande program, is geïnisieer deur die Departement van Arbeid, wat dit kon befonds deur buitelandse skenkings. 'n Mens sou kon dink dat die belangstelling daarvoor goed sou wees, aangesien daar soveel ongeletterde mense is, wat nooit die geleentheid gegun was om hulself te bemagtig met skoolopleiding nie, maar Elize moes omtrent bontstaan om genoeg inskrywings vir die program te werf. Die redes hiervoor was o.a. dat die mense, wat alreeds tussen die ouderdomme van 45 en 80 was, skaam was om te erken dat hulle ongeletterd is, en daarmee saam ook die vrees vir spot en verkleinering deur hul jong, mede familielede wat nou wél op die skoolbanke is, en ander het eenvoudig alreeds in die ongeletterdheidsgroef verval, met geen begeerte om daaruit te kom nie. En hoe ironies dit ook al mag klink, het die 24 mense wat uiteindelik die moed gehad het om die program te voltooi, dit só geniet dat hulle nou hul vriende inspireer om deel te neem, indien daar weer 'n program aangebied sou word.
Elize moes 'n intensiewe opleidingskursus in Kimberley voltooi, om die groep studente te onderrig, waarvan slegs drie tot graad 3-opleiding ontvang het. Die redes vir hul ongeletterdheid, kon wees dat die mense se ouers, self ongeletterd, eenvoudig nie die nodigheid daarvan ingesien het om hul kinders skool toe te stuur nie, maar heel dikwels kon die kinders nie tyd kry om klas te loop nie, omdat hulle hul kleiner boeties of sussies moes grootmaak as hul ouers vroeg gesterf het.
Die studente moes letterlik heel voor begin, deur te leer hoe om 'n pen reg vas te hou, aangesien die meeste van hulle nog nooit geskryf het nie. Alhoewel daar seker legio woorde is waarmee hulle kon wegspring, het Elize hulle geleer om hul naam, van en handtekening te skryf. Wat vir die meeste van ons baie vanselfsprekend is, het vir hierdie groepie studente 'n gevoel van menswaardigheid gegee, en daarmee saam trots, omdat hulle nooit in hul lewens weer gevra sal word om 'n kruisie te trek op die stippellyn nie.
Hierna het hulle weggespring met die alfabet, kleinletters, hoofletters en selfs klanke. Die hele groep studente is opgedeel in 4 kleiner groepies, na gelang van hul vordering in die verskillende moeilikheidsgrade, die groepe is gemonitor en dienooreenkomstig nuwe werk gegee. Binne 'n maand kon almal al woorde skryf, kort daarna het sinne gevolg, hierna paragrawe en selfs kort briewe, en almal moes 'n eksamen aflê om hul nuutgevonde inligting weer te gee, waarvoor hulle 'n sertifikaat ontvang het.
Volgens Elize was dit 'n lewensverrykende ervaring om die kursus te kon aanbied. Sy herinner ons daaraan, dat, alhoewel hierdie ongeletterde mense was, 'n mens soveel by hul ryke lewenservaring kon leer. En natuurlik hul deursettingsvermoë. Die begeerte van die studente was maar net om hul eie dokumente te kon teken, hul eie banksake te kon doen, gereeld die koerant te lees, maar veral om hul Bybels self te kon lees. Nooit weer kan ons maar net onverskillig staan voor die voorreg om te kan lees, skryf en verstaan nie.
JCB