Posted on 30 June 2010

HANTAM VLV OPVOEDING en KULTUURVERGADERING

 

Die meeste van ons, kan met pure nostalgie terugdink aan daardie heel eerste skooldag, ver in  ons stowwerige geheues.  Dalk het jy met 'n oorgroot skooltas in die hand, splinternuwe skoolrokkie of  -broek, 'n haasbekkie en bokstertjies in die voortuin gestaan en bewerig geglimlag vir pappa se kamera om dié geskiedkundige oomblik te verewig.  En daarmee saam duik die herinneringe aan die graad een juffrou wat voor in die klas gestaan het op, wat ontelbare male die letters en klanke ingedril het by haar gretige groot-ogies. 

Maar tog is daar heelparty mense, wat eerder terugdink aan die tallose kere wat hulle rooigesig moes vra vir aanwysings of verduidelikings, omdat hulle eenvoudig net nie kon lees wat in die mengelmoes vreemde letters voor hul oë gestaan het nie.  Die Hantam VLV vroue het tydens Sharon van der Merwe se Opvoeding en Kultuur vergadering, weereens besef hoe dankbaar ons moet wees vir die geleenthede ons gegun.

 

Elize van Niekerk, het einde 2009 volwasse opvoeding onder werklose, ongeletterde mense van Calvinia gedoen.  Dié gratis drie maande program, is geïnisieer deur die Departement van Arbeid, wat dit kon befonds deur buitelandse skenkings.  'n Mens sou kon dink dat die belangstelling daarvoor goed sou wees, aangesien daar soveel ongeletterde mense is, wat nooit die geleentheid gegun was om hulself te bemagtig met skoolopleiding nie, maar Elize moes omtrent bontstaan om genoeg inskrywings vir die program te werf.  Die redes hiervoor was o.a. dat die mense, wat alreeds tussen die ouderdomme van 45 en 80 was, skaam was om te erken dat hulle ongeletterd is, en daarmee saam ook die vrees vir spot en verkleinering deur hul jong, mede familielede wat nou wél op die skoolbanke is, en ander het eenvoudig alreeds in die ongeletterdheidsgroef verval, met geen begeerte om daaruit te kom nie.  En hoe ironies dit ook al mag klink, het die 24 mense wat uiteindelik die moed gehad het om die program te voltooi, dit só geniet dat hulle nou hul vriende inspireer om deel te neem, indien daar weer 'n program aangebied sou word.

 

 

Elize moes 'n intensiewe opleidingskursus in Kimberley voltooi, om die groep studente te onderrig, waarvan slegs drie tot graad 3-opleiding ontvang het.  Die redes vir hul ongeletterdheid, kon wees dat die mense se ouers, self ongeletterd,  eenvoudig nie die nodigheid daarvan ingesien het om hul kinders skool toe te stuur nie, maar heel dikwels kon die kinders nie tyd kry om klas te loop nie, omdat hulle hul kleiner boeties of sussies moes grootmaak as hul ouers vroeg gesterf het.

 

Die studente moes letterlik heel voor begin, deur te leer hoe om 'n pen reg vas te hou, aangesien die meeste van hulle nog nooit geskryf het nie.  Alhoewel daar seker legio woorde is waarmee hulle kon wegspring, het Elize hulle geleer om hul naam, van en handtekening te skryf.  Wat vir die meeste van ons baie vanselfsprekend is, het vir hierdie groepie studente 'n gevoel van menswaardigheid gegee, en daarmee saam trots, omdat hulle nooit in hul lewens weer gevra sal word om 'n kruisie te trek op die stippellyn nie.
Hierna het hulle weggespring met die alfabet, kleinletters, hoofletters en selfs klanke.  Die hele groep studente is opgedeel in 4 kleiner groepies, na gelang van hul vordering in die verskillende moeilikheidsgrade, die groepe is gemonitor en dienooreenkomstig nuwe werk gegee.  Binne 'n maand kon almal al woorde skryf, kort daarna het sinne gevolg, hierna paragrawe en selfs kort briewe, en almal moes 'n eksamen aflê om hul nuutgevonde inligting weer te gee, waarvoor hulle 'n sertifikaat ontvang het. 

 

Volgens Elize was dit 'n lewensverrykende ervaring om die kursus te kon aanbied.  Sy herinner ons daaraan, dat, alhoewel hierdie ongeletterde mense was, 'n mens soveel by hul ryke lewenservaring kon leer.  En natuurlik hul deursettingsvermoë.  Die begeerte van die studente was maar net om hul eie dokumente te kon teken, hul eie banksake te kon doen, gereeld die koerant te lees, maar veral om hul Bybels self te kon lees.  Nooit weer kan ons maar net onverskillig staan voor die voorreg om te kan lees, skryf en verstaan nie.

JCB



Posted on 27 June 2010

Woensdagaand 16 Junie het die Drie Riviere VLV Blommeklub, in samewerking met Hoërskool Douglas 'n Blomteater aangebied ter stywing van die skool se fondse. Dit was een van die koudse aande in jare, maar ten spyte van die koue wat opgekruip het teen ons bene, het die blommekunstenaar en mode ontwerper, Schalk van Dyk van Bloemfontein, op die verhoog getoor met blomme en is van sy rokke deur plaaslike modelle vertoon.
 

Die tema van die aand was PASSIE. Die tema is deur verskillende ontwerpe uitgebeeld. Die eerste ontwerpe (Skepping) beeld God se Passie om te skep uit.  Voor die skepping was alles donker - en Schalk het eerstens 'n ontwerp op 'n model se skouer gedoen met die tema, Rapsody in black. Daarna is die skeppingsdae gerangskik.
 

Mari-Loui Nortje - Rapsody in Black, in 'n bruin barrok trourok. 

 

 

Die skepping van die voels en diere en seelewe was 'n baie gewilde ontwerp by die meeste gaste van die aand.

 

 

 

 

Na die voltooiing van die ontwerpe het die modelle rokke vertoon in wit en swart (lig en duister) oranje, groen en goud met die musiek Eva in die agtergrond. 
 

Schalk het sy passie vir sy ouerhuis uitgebeeld  in sy pa, wat baie lief was vir 'n groentetuin en die kleurvolle blomme beeld sy pa as 'n vrolike en liefdevolle mens uit.  Die massa-ontwerp beeld sy ma uit - wat vir hom liefde vir blomme en die skoonheid daarvan geleer het.  Hy het ook twee gedigte voorgelees wat hy geskryf het vir hulle.
 

Hier het die modelle rokke vertoon in kleure van pienk, pers, seegroen en blou. 
 

Passie word die beste geillustreer in die liefde tussen man en vrou.  Hier is die ontwerp 'n brug, en het Schalk aan die linkerkant die man se sterk en growwer natuur uitgebeeld en aan die regterkant die vrou.  Die ontwerp is ondersteun met die musiek "Rhytm of love" en daarna het die modelle bloedrooi en maroen rokke vertoon.
   
 

Kerkvensters.  Ons moet almal streef om suiwer te leef. Ons moet 'n wit lig uit te straal in ons lewensreis elke dag.  Dit kan ook 'n verskil in ons gemeenskap en verhoudings meebring.  Na die voltooiing van die ontwerp het lede van die verskillende kerke, verenigings, organisasies en skole in die gemeenskap 'n kers opgesteek, as simboliek om 'n verskil/lig uit te straal daar waar ons betrokke is.  Hierna het die modelle wit en ivoor trourokke vertoon.

 

 

 

Om die aand as 'n dankbetuiging af te sluit, is 'n stomp op 'n model se skouers geplaas, en met een van die plaaslike sangers, Johan Nel, wat You raise me up, sing, is die rangskikking voltooi.
 

Na al die lekkerte van ontwerpe wat voltooi word, mooi musiek en die vertoon van pragtige rokke, is heerlik verder gekuier rondom sop, brood en heerlike truffels.  'n Luukse aand, met luukse kreatiwiteit.   
 

Modelle v.l.n.r Suzaan Germishuys, Megan Innis Grant, Mariolette Gerber, Marthie van der Westhuizen (organiseerder en voorsitster van Drie Riviere VLV Blommeklub) Marie-Loui Nortje, Schalk van Dyk (Blomkunstenaar en mode ontwerper), Mone Haarhoff, San-Mari Gous, Elzaan van den Heever en Maritza Gerber.  

 

 



Posted on 25 June 2010

Welgemoed tak het komberse oorhandig aan die inwoners van Huis Andre Olivier, 'n huis wat kwadrupleë huisves.  Die inwoners is almal betrokke met die bestuur van die huis en die tuine.  Die lede het blokkies gebrei en Olga Burger het die blokkies aanmekaar gehekel.  Dit is met groot opgewondenheid ontvang. Ons het ook vir hul twee koeke geneem vir hulle tee en hulle kon nie wag om dit te geniet nie. 

 

Olga Burger, Brenton Swartz, Tommy Atkinson-Hope en Vernon Person.

 

  

Komberse, koek en mondskildery deur 'n inwoner geskilder.

 

 


‘n Verdere projek van die eerste kwartaal was die insameling van toiletware wat geskenk is aan Karl Bremer Hospitaal vir die pasiënte wat opgeneem word sonder enige artikels.   Daar was ook 'n behoefte by die Noodeenheid vir stortgordyne en gordyne vir die kwartiere waar die dokters so tussen gevalle 'n bietjie kan slaap en hulself verfris.  'n Aantal gordyne, stortgordyne, toiletware en eetgoed is oorhandig aan Matrone Jacobs en Suster Dolby.

  

 



Posted on 24 June 2010

Op 2 Junie het ons 'n Openbare Sake vergadering gehou met die tema:  Die vrou en haar rekenaar.  Die spreker was Francois Olivier van Durbanville. Hy het aan die dames al die voordele van die besit van 'n rekenaar verduidelik en hoe dit vir jou 'n nuwe wêreld kan oopmaak.  Hy het die verskil van Facebook, Twitter ens aan die dames verduidelik.  Hy het die veiligheid van internetbetaling beklemtoon.

 

Die saal was pragtig versier met die Sokker 2010 as tema.  Die tafels met verversings was verteenwoordigend van die verskillende lande wat deelneem aan die Wêreldbeker sokker.  Van "hamburgers" uit Amerika, tai-tai uit Nederland en koeksisters uit Suid-Afrika.  Ons het heerlik geproe aan al die verskillende lande se verversings!  Dit was voorwaar 'n baie oulike en slim idee.
 

Almal moes gemaklike klere met plat skoene of tekkies na die vergadering toe aantrek.  Die rede daarvoor was dat lede kans gekry het om die sokkerbal te dribbel!  Party was nou nie juis so vaardig nie!   Ander het weer probeer om die vuvuzela te blaas...........die asems was maar min!!!
 

Daar was 62 lede en 4 besoekers by die vergadering teenwoordig en ons het nog 2 nuwe lede bygekry wat ons ledetal nou op 80 te staan bring!  Lede het ook ywerig deelgeneem aan die kompetisies.  Daar was 17 inskrywings in die verskillende afdelings.  Die dames is ook baie opgewonde oor die kompetisie items van 2011 en kom op 'n gereelde basis bymekaar om te beplan en te werk aan hulle items.
 

 Dit was 'n heerlike vergadering en almal is dit eens dat ons beslis nog baie het om te leer oor rekenaars.
 

 
Openbare Sake groep: Elbeth, Mariaan, Isabel, Anita(Saamroeper), Maritha, Helmine

  

 

 

Verversings van Australië en Griekeland

 

 

 

Ester Visser dribbel die sokkerbal


 

 

Die drie beoordelaars Aletta, Suzette en Annatjie

 

 



Posted on 22 June 2010

Citrusdal se Landbou & Tuinbou vergadering is deur Minette du Toit geopen.  Hierna is al die formele verrigtinge afgehandel.  Desiré Smit het vir ons 2 pragtige viool items gelewer. Onder andere was die tweede item Salu D’More van Algo.  Van ons ouer lede sal hierdie stuk onthou as die Mrs Ball’s advertensie se kenwysie. 

 

 

Ons gasspreker was Susan de Kock.  Met haar graad in Natuurbewaring werk sy vanaf ‘n tuiskantoor en het al van die Kaap tot by die Namibiese grens, sowel as in die Karoo, werk verrig.  Sy werk baie nou saam met die Departement van Landbou met betrekking tot bewaring.  Dit behels dat sy impakstudies doen op gedeeltes van landbougrond waar nuwe aanplantings of selfs pakhuise beoog word. Natuurlike veld raak minder en meer bedreig. ‘n Voornemende kliënt kontak haar en sy doen dan die impakstudie. Dit behels ook dat sy saam met ‘n Botanis die grond besoek. Indien daar bedreigde of miskien nuwe spesies ontdek word, beteken dit dat die boer nie die grond sal kan ontwikkel nie.  Sy het ook melding gemaak van ‘n nuwe omgewingsbewaring wet wat nou beskikbaar is en wat ontwikkelings op sensitiewe areas beperk. 

 

Ons voorsitter, Marlene Dirkse van Schalkwyk, het elkeen bedank vir haar harde werk tydens ons jaarlikse snoekbraai wat teen einde Mei plaasgevind het.

 

Uitstallings is gehou deur Openbare Sake: padtekens, Landbou & Tuinbou : boeke oor inheemse blomme en bome.  ‘n Gelukkige trekking is gehou. Ons almal moes dan ook tydens hierdie vergadering “outyds” aantrek en daar is heerlik gelag vir party uitrustings. 

 

Ons 5 minute praatjie deur Kuns en Handvlyt het gehandel oor ‘n lewenskets van die skilder Dawid Botha. Hy is ‘n skilder en grafiese kunstenaar. Sy skilderye word gekenmerk deur straattonele van die Kaap en Stellenbosch omgewing, asook stillewe.  Hy doen ook linosnee werke.

 

Ons sekretaresse lees vir ons uit ou notule boeke voor. Onder andere is daar met elke vergadering ‘n item gelewer, soms sommer 2!  Baie sang solo’s, klavier solo’s en duette, boekvoorlesings, voordragte en vasvrae was gereeld op die vergaderings gehou. Demonstrasies deur onder andere Nestlé, Sasko en Vleisraad het ook plaasgevind. In 1972 is selfs ‘n wynproe aand gehou. 100 Kaartjies teen 50c elk is verkoop ten bate van VLV Citrusdal se eie kas.

 

Ons het afgesluit met ‘n heildronk op ons tak se 79ste verjaardag.

 

 

Berig deur Minette du Toit.

 

 

 

 

Drie Lede geklee in hul "oytydse" uitrustings.

 

  

 

Desiré Smit



Posted on 21 June 2010

Annamarie Rich het met ons die tema: “Binnehuisversiering met wat jy het” kom deel  onder die volgende punte:

1. Skuif jou meubels ‘n slag op ‘n ander manier.
2. Pak reg, weg en raak ontslae van oortollige goed.
3. Kyk wat is op jou kombuis se werkoppervlaktes, op jou bedkassie en badkamerkassie, pak die oortollige goed weg.
4. Ruil van tyd tot tyd die goed wat jy uitstal om met ander wat jy nou gebêre het.
5. Dit maak regtig ‘n groot verskil aan jou binneversiering as die plek netjies is.
6. Gebruik bêrehouers en maak dit deel van jou dekor.
7. Sorg dat die balans op n tafel, rak en in die kamer reg is.
8. Gebruik ou goed op ‘n nuwe manier.  Bv doilies op ‘n tafeldoek of deken was gewerk.
9. Gebruik spieëls op verskillende maniere, sit dit in ‘n ou raam of in die middel van ‘n tafel met ‘n blompot vol blomme daarin.
10. Kussings:
                  Ou kussings sit bv. kraletjies, koort of tossels aan en hul het ‘n nuwe lewe;
                  Ou gehekelde tafellappies kan in kussingslope verander word;
                  Werk  ‘n kantjie aan ‘n kussingsloop en trek die boonste kussing daarmee oor;
                  Maak lang kussings vir ‘n verandering.
11. GEBRUIK jou goed!!!!!!! Moenie dit bêre vir jou kinders of die 2de vrou nie. Hulle gaan dit nie waardeer nie!!



Posted on 21 June 2010

Ons is vriendelik by die deur ontvang en elkeen het ‘n sakkie met vars lourierblare gekry.


Jonge Hélène Coetzer met ‘n vriendelike welkom-glimlag. Wie sal nou nie ‘n VLV vergadering geniet as jy só welkom geheet word nie.

 

 

 

Die koue wintersdag begin met ‘n praatjie oor speserye. Hierdie tyd van die jaar soek ‘n mens die warm geur van speserye in dit wat jy eet of drink. Berg altyd jou speserye in ‘n glashouer met ‘n digpassende deksel op ‘n koel donker plek, en nie langs die stoof nie. Wil jy jou melktert “opdollie”? Kook die melk met ‘n paar gebreekte kardemomsade en suig deur, sprinkel kaneel en ‘n bietjie neut oor die melktert en bak. Gebruik kardemom in ‘n maaskaas nagereg - dit is heerlik en iets heeltemal anders. Gooi ‘n knippie kardemom in ‘n koppie warm swart koffie of tee. O! die geur vul jou van binne. Garam Marsala en Hoender Breyani resepte word uitgedeel.

 

Na spyse en drank volg ons huis. Jou huis is jou koninkryk. Die eerste gewaarwording wat iemand van jou huis kry is die reuk. Sit iewers laventel in ‘n vaas neer of touballe wat gegeur is. Kies die geur waarvan jy hou, nie Annie of Sannie se geur nie, maar jou eie. Na geur volg kleur. Jy het jou eie besondere kleur voorkeur. Maak ‘n fokuspunt in ‘n vertrek met hierdie kleur en onthou dit is winter, gebruik warm kleure. Teksture is ook belangrik. Gebruik grof, sag en syagtige teksture in warm kleure.

 

Laastens het ‘n huis warmte nodig en dit gee jy met jou vriendelike gasvryheid. Onthou dit is jou koninkryk.

 

‘n Uitstalling van Delft porselein, ‘n tafel gedek vir ‘n deftige aandete of troue en ‘n uitstalling oor Mars rond hierdie vergadering mooi af.



Posted on 19 June 2010

Saterdag, 5 Junie, het die jaarlikse Openbare vergadering van Victoria-Wes VLV by de Oude Pastorie gastehuis plaasgevind. Met 'n kaggel wat die nodige hitte verskaf, kon daar lekker saamgekuier en gesels word.
 

Daar is die oggend na toerisme gekyk. Die voorsitter het daarop gewys dat verskeie aspekte soos geskiedenis, literatuur en natuurlik sport, gebruik kan word om toeriste na 'n dorp/land te lok. Sy het 'n paar van Victoria-Wes se besienswaardighede uitgewys.  'n Leerder, Belinda Barnard, het kans gekry om haar inskrywing voor te lees oor hoe sy Victoria-Wes aan besoekers sou bekendstel. Sy was die wenner van die kompetisie wat vir gr. 6 en 7 leerders aangebied  is.

 

Daarna is gefokus op die sokker wêreldbeker wat vanjaar in ons land aangebied word. Meer is vertel oor die gelukbringertjie, Zakumi, wat deur 'n mnr. Odendal ontwerp is. Die amptelike embleem en die betekenis is ook uitgelig.  In die lig van toerisme (en gesondheid) is 'n voorstel aanvaar om met die plaaslike munisipaliteit in gesprek te tree oor die oprigting van openbare toilette. 
 

Me. Leatitia Duminy het foto's gewys wat sy geneem het van interessante geboue toe sy in Engeland bejaardes opgepas het. Die dames het dit baie interessant gevind.
 

'n Lid, me. Sinclair, het terugvoer gegee oor die Schreiner-aand wat in Mei aangebied is. Sy't ook genoem van die literêre roete wat die spreker by die geleentheid, dr. David, beplan.  Hy is ook tans besig met 'n koffietafelboek oor plattelandse kerke.

 

 

 

 

Belinda Barnard ontvang haar prys van me. Perrin.

 



Posted on 19 June 2010

Roselle Edwards (sameroepster van Gesondheid) het tydens haar pas afgelope VLV vergadering die Hofmeyr Gimtrimgroep genooi om op te tree.

 

Talle van die Gimtrimlede is ouer as 70, en het fiks en gesond voorgekom terwyl hulle onder leiding van Ronel hul passies en oefeninge uitgevoer het.  Geeneen het eers uitasem gelyk na die rits oefeninge wat vir sowat 'n halfuur aangehou het nie.  Die lede van Hofmeyr gimtrim getuig van dramatiese gewigsverlies sedert hul aansluiting by die groep, en dit was ook baie duidelik dat daar geen stywe spiere meer oor is nie.  Elkeen is flink, vinnig en fiks, en elkeen kon elke oefening sonder enige inspanning uitvoer.

 


Selfs persone wat hartomleidings en heup- en knievervangings gehad het, het deelgeneem, en dit baie geniet, sonder enige nadelige gevolge.

 

 

 

 

Ronel Visser van Hofmeyr Gimtrim in aksie tydens die pas afgelope VLV vergadering.

 

 

 

4 lede van Hofmeyr gimtrim besig met hulle oefeninge tydens die Hofmeyr VLV vergadering.  Van links na regs: Theuns, Lien, Suzie en Truda.

 

 

 

Truda Beukes (70 +) en reeds vir bykans 40 jaar VLV lid,  het tydens die pas afgelope VLV vergadering saam met die Hofmeyr Gimtrimgroep opgetree.  Lyk sy nie fiks en gesond nie?



Posted on 16 June 2010

Op Saterdag, 15 Mei 2010 om 10:00 het vyf van die dames by Leoni Cornelissen se huis vergader vir rekenaaropleiding. Persone teenwoordig was, Drienie Visser, Charlene van Zyl, Juliana Fourie, Leonie Cornelissen, Eirene Hoving, Babs Holtzhauzen en Pieter. Pieter werk saam met Leoni en doen tekeninge op die rekenaar. Hy is baie goed met rekenaars en daarom het hy aangebied om ons met die opleiding te help.

 

Pieter het vir tannie Babs laat sit voor die rekenaar en haar bietjie touwys gemaak. Ons het haar die VLV se webtuiste gewys. Sy het ook geleer hoe om ‘n epos te stuur en tikwerk te doen op Microsoft Word. Pieter het haar gewys hoe om die rekenaar aan en af te skakel en algemene inligting gegee oor hoe om die rekenaar te versorg. Hy het haar ook gewys dat mens jou banksake op die internet kan doen, maar dat mens moet waak teen e-posse wat jou inligting soek.  Mens moet eers na jou bank toe gaan en alle inligting by hulle kry alvorens jy met internetbankdienste wil voortgaan. 

 

Tannie Babs het almal bedank en gesê sy sal ons op hoogte hou van haar vordering tuis.

 

Charlene van Zyl

 

 

 Tannie Babs & Pieter, hard aan die werk.

 

 

Categories