Posted on 29 July 2010

'n Oorkonde van dank (asook eetgoed) is aan die plaaslike poskantoor se personeel oorhandig. 

 

Jamestown VLV is BAIE trots op Philna van Pletzen wat 4de gekom het uit die hele Kaapland in 'n opstelkompetisie met die tema  "Dit het met my gebeur".

 

Antoinette van Pletzen help tans die kurator van die Jamestown Museumom die museum 'n bietjie op te kikker, en sy het daarvan verslag gelewer. Sy ontvang geldelike hulp van die VLV en die Landbouvereniging daarvoor. Antoinette het ook die nuwe hospitaaltariewe van Jamestown se hospitaal bekendgemaak en vertel van die nuwe ambulansdiens op Aliwal-Noord wat oor die dienste van 'n vliegtuig beskik.

 

Gerrie Upton en Hilda v/d Walt het gesamentlik 'n Leefstyl program aangebied. Wenke vir komende sirkelkompetisies is gegee. Daarna kon almal wat nog nie kan hekel nie (of al vergeet het hoe!), wol en 'n naald neem en onder leiding van die ander handiges hierdie ontspannende handvaardigheid aanleer. Al die "leerlinge" is toe geïnspireer om blokke te hekel waarmee 'n latere kombers gevorm gaan word!

 

 

 

Jamestown se Posmeester Seithati Shasha, en Edward Lumatha - wat al 32 jaar by die poskantoor op Jamestown werksaam is.

 

 

 

Van links Ilse van Vuuren (sekretaresse), Christell Venter (Openbare Sake-saamroeper), Seithati Shasha (posmeester), Edward Lumatha (wat al 32 jaar by die poskantoor op Jamestown werksaam is), en Hilda v/d Walt (voorsitter).

 

 

 

Philna van Pletzen



Posted on 29 July 2010

'n Spoggeleentheid waar asemrowende rokke van Schalk van Dyk, ontwerper van Bloemfontein, vertoon is en Van Dyk ook met blomme getoor het, is in die skoolsaal van NJ Heyns aangebied ter insameling van Kongres 2010. Lede van Kimberley en distrik en Griekwaland-wes laat hul egter nie deur ekonomiese probleme afskrik nie en die damesoggend is as fondsinsameling aangebied. 
 

Daar is reeds die Vrydagoggend met interessante klasse tydens die Oranje Blomme Unie (OBU) se jaarlikse simposium in Kimberley begin. Mev. Elsa Kolver,  bekende in blomkringe, het 'n klas met die tema "Space,  Pain or Gain" aangebied. Schalk van Dyk het die middag 'n werkswinkel aangebied waar rangskikkers die nuutste tendense in moderne bruids- en tafelruikers aangeleer het.
 

Mev. Melana Möller, president van die Griekwaland-wessirkel, het die geleentheid om VLV en OBU tesame te akkomodeer aangegryp deur 'n interessante oggend met blomdemonstrasies en 'n modeparade aan te bied terwyl die demonstrateurs en OBU-lede in Kimberley was. Van Dyk het met die tema  "Vroue in Kleur" gewerk en rangskikkings gemaak wat die verskillende "kleur vrouens" uitbeeld. Modeskeppings in die verskillende kleure het die demonstrasies komplimenteer. 
 

Mev. Melana Möller en Schalk van Dyk by die rangskikking van die "groenvrou" wat bv. lief is vir die natuur.

  

 



Posted on 29 July 2010

Dit was die vraag wat die VLV-lede van Kleinmond aan die Franse vrou, ikoon van stylvolheid, gevra het met hulle Naaldwerk-vergadering. Wat’s jou geheim Madame?

 

Toegelig met plakkate en uitstallings van serpe, handsakke en boeke oor Frankryk asook modelle wat vertoon het hoe sjiek ‘n wit hemp individualisties gebruik kan word met enige serp, het Annie Jooste en haar gasvroue die gehoor geboei met hul aanbieding.

 

Die vyf dinge waarsonder ‘n Franse vrou nie kan klaarkom nie, is ‘n serp, ‘n handsak, parfuum, ‘n wit bloese en mooi, goeie onderklere. Soos die Franse vrou moet ons stylvol en elegant wees. Dit kry ons reg deur klassieke klere te dra, maar ook af-en-toe ‘n bietjie waaghalsig te wees. Vergeet van ouderdom, wees lus vir die lewe, trek vir jouself aan en wees vol selfvertroue. Modeneigings kwyn, maar styl bly.

 

Ander bydraes is gelewer deur Mereille Nel wat die vergadering met die voorlees van Ps. 23 in Frans geopen het, Ninnie Burger wat oor parfuum gepraat het, Mariëtte Serdyn wat vertel het hoe laventelolie help vir slapeloosheid, blase, snye en muskiete, en Rita du Toit het die verskil tussen gekweekte, varswater- en nagemaakte pêrels en mabés verduidelik.

 

Alle egte pêrels vandag is gekweektes. Die in seewater gekweek is duurder omdat die oestertjie sterf nadat die pêrel uitgehaal is. Varswaterpêrels word in mossels gekweek en ‘n hele paar kan op ‘n slag daarin geplaas word. Die mossel kan ook weer gebruik word. Mabés is halwe bolvormpies wat in oesters geplaas word. Versorging: sit eers jou parfuum en haarsproei aan en dan jou pêrels en vee die stringetjie met ‘n skoon, klam lappie af na jy dit gedra het.

 

Pragtige sang deur Hannie van Wyk se groepie en uitstallings deur die Lieflappers en die Kloskantgilde het ‘n reeds heerlike vergadering verder opgehelder.

   

 

 

Fifi Krige en Annie Jooste(sameroeper vir Naaldwerk) by die uitstalling van serpe en handsakke.

 



Posted on 28 July 2010

Stilbaai tak neem met leedwese afskeid van Sannie van Rensburg.

 

Sannie, wat in 1974 in Worcester by die VLV aangesluit het, was ook vir ‘n tyd lank lid van Wellington tak. Sy was sedert 1999, tot en met haar afsterwe, lid van Stilbaai tak.

 



Posted on 27 July 2010

Tydens Murraysburg se Julie vergadering het Elsabé Louwrens die lede ‘n bietjie oor die leefstyl in Tanzanië ingelig.

 

Dit was vir hulle besonder verrykend om ander Afrika-mense te kon leer ken, omdat hulle oogkontak maak en vreemdelinge baie hartlik welkom laat voel.  Goeie menseverhoudings is vir die mense van Tanzanië baie belangrik. Die openheid en warmte van die mense laat die besoeker nie net welkom nie, maar ook veilig voel!

 

Op die platteland woon die mense langs die strate, omdat dit vir die staat makliker is om daar dienste te verskaf.  Die huise is meestal eenvoudig, maar die vroue trek besonder goed aan en hulle lang rokke en rompe is van die mooiste Afrika-materiale gemaak, terwyl die dogtertjies in pragtige partytjie rokkies uitgedos is.

 

Die Tanzaniërs is hardwerkend en steur hulle min aan vasgestelde werksure.  Hulle begin baie vroeg soggens, aanvaar as vanselfsprekend dat werk deel van die mens se bestaan is en maak mooi meubels sommer daar langs die pad, waar dit ook verkoop word. Hulle meubels en planke word by hul werksplek en nie agter heinings en slotte geberg nie.

 

Alle benodigdhede word met waentjies of fietse vervoer.  Die waentjies word nie deur diere nie, maar deur mense getrek en ‘n mens sien ‘n hele familie op een fiets of sakke houtskool agter op die drarak en/of stuurstang gebalanseer.  Brandstof is baie duurder as in Suid-Afrika.

 

Vars produkte soos groente en vrugte is vrylik en billik langs die paaie te koop en van goeie gehalte. Selfs brood kan omtrent orals bekom word. Die plaaslike koffie is baie lekker en ‘n tipiese ontbyt bestaan uit speserytee en gesmeerde witbrood. Alles is baie goedkoper as in Suid-Afrika.

 

Die geselskap het hulle toegespits op die Christene van die Masai-stam in die omgewing van die Ngorongoro krater.  André Louwrens het by twee geleenthede gepreek en is diep geraak deur die sang van tipiese Masai wysies, wat herskryf is om die liefde van Jesus te besing, en aangrypende oomblikke van intense liefde.  Hulle het ervaar dat God in Afrika toegankliker is danksy die teenwoordigheid van ongeskonde ekologiese sisteme en die afwesigheid van menslike arrogansie.

 

Mette Kromhout

 



Posted on 27 July 2010

Ansie Maas verruil De Aar vir Pretoria.  Sy het by De Aar tak in 1960 aangesluit en verlaat ons nou in 2010!

 

Ansie…..

 

Ons gaan jou beslis baie mis, nie net al die kere wat jy bereid was om jou deel as VLV-vriendin te doen nie, maar omdat jy, jy is.

 

Baie dankie vir al jou liefde deur die jare, jy was baie lank by ons werksaamhede betrokke, ons het baie by jou geleer en kon altyd op jou staatmaak.  Geen byeenkoms of funksie gaan ooit weer dieselfde wees sonder jou nie.

 

Jou plekkie gaan leeg wees, maar wees gerus, ons sal jou nooit vergeet nie, net baie mis.  Dankie vir al die kere wat ons saam kon lag, huil, bly wees of werk.  Dankie dat jy altyd daar was as ons jou nodig gehad het.

 

Jy is die beste vriendin wat iemand kan hê, ons vriendskap met jou sal ons nooit berou, maak nie saak wat die toekoms vir ons inhou.  Ons vertrou dat jy gelukkig sal wees waar jy nou gaan woon, dat die Heer jou sal lei en onderskraag en dat jy wel vir ons sal kom kuier.

 

Ons wens vir jou:

Genoeg geluk om lief te he;
Genoeg beproewings om jou sterk te hou;
Genoeg verdriet om jou menslik te hou;
Genoeg hoop om jou gelukkig te hou;
Genoeg welslae om jou ywerig te hou;
Genoeg vriendinne om jou te troos;
Genoeg rykdom om in jou behoeftes te voorsien;
Genoeg ywer om jou vooruit te laat sien;
Genoeg vasberadenheid om elke dag beter te maak as die vorige.


Baie liefde
VLV De Aar

 

 



Posted on 25 July 2010

Soos die geluk dit wil he het die Opvoeding en Kultuur studiegroep se vergadering in dieselfde maand geval as die FIFA Sokker Wêreldbeker.  Die tema was dan ook "Sokker".  Vyf van die dames het soos sokkerspelers aangetrek met groot brille, hoede en Vuvuzelas,  met 'n groot gejuig en Laduyuuuuuuuuuuuuma en Ayoooooooooooooba die saal binnegekom en daarmee 'n gees van "socca feva" onder die dames aangewakker. 

 

Mnr Tommy O'Kennedy van Porterville het ons toegespreek oor menseverhoudinge.  Elke lid het vir seker na die tyd iets gehad om oor na te dink.

 

Foto uitstalling: die lede het foto's van die WBPV (Kultuur) in Pretoria in 1998, drie huisgesinne se foto's (Koester gesinslewe) en foto’s van ons plaaslike museum baie interessant gevind.

 

Ons projek: Betrokkenheid by die Jeug was 'n groot sukses en die dames het die tydskrifte wat ingesamel is as deel van die projek, aan Laerskool Porterville oorhandig.

 

Berig deur Hessie Kuhl.

  

 



Posted on 22 July 2010

VLV Cradock het hul 80ste verjaardag met 'n aanskoulike mode- & musiekoggend gevier.  Die geleentheid is in die Cradock-Oos Kerksaal gehou, en André Malan, befaamde historikus en mode ontwerper uit die omgewing het as gasspreker by die geleentheid opgetree. 

 

André het talle uitrustings geskep om modes van toentertyd uit te beeld. Presiese replikas van rokke wat hy op familie- en museumfoto's gevind het, is gemaak en die modelle het die rokke vertoon, terwyl André die geskiedenis en era van die rokke geskets het en soms ook staaltjies rondom spesifieke uitrustings vertel het.  Agtergrondmusiek is deurentyd gespeel, en terwyl die modelle verklee het, het Willa Robinson en Emmie Marais musikale verposings verskaf met klavier en sangitems. 

 

Die geleentheid het die vorm van 'n formele noenmaal aangeneem. Elke VLV lid op Cradock het as gasvrou van 'n tafel opgetree en 10 gaste elk genooi. Hierdie geleentheid val ook saam met die fondsinsamelingspoging wat deur Sirkel Cradock van stapel gestuur word om fondse te in vir hul kongresbeurt wat teen 2014 aanbreek. 
Vanuit Sirkelgeledere was Teresa Opperman, visepresident, deur Ria Meyburgh, Voorsitter Cradock tak,  as eregas genooi om ook die geleentheid by te woon. Die modelle het ongeag die koue en sonder om te bibber of te beef, hul prag uitrustings met selfvertroue en swier vertoon.

 

 

André Malan, historikus van Cradock saam met Poppie Coetzee, VLV lid van Cradock, tydens hul Mode- en Musiekoggend wat onlangs gehou is, en waartydens André as gasspreker opgetree het en sy modeskeppings vertoon is.

 

 

 

Cradock VLV lede tree op as modelle vir die reeks kledingstukke gemaak deur André Malan.

 

 

 

 

 



Posted on 22 July 2010

Elizna Lessing, dieetkundige vanaf Middelburg het die afgelope VLV vergadering op Hofmeyr bygewoon as gas van Roselle Edwards, sameroepster van Gesondheid. 

 

Sy het duidelike riglyne gegee oor gesonde eetgewoontes, moets en moenies en ook haar kennis rondom verskeie gesondheidsprobleme wat ontstaan as gevolg van verkeerde eetgewoontes met die dames gedeel.  Sy het die volle spektrum van dieetkunde bespreek, en na afloop van die vergadering was dit vir elke lid duidelik hoeveel en waarvan sy mag eet, wat sy moet vermy, en watter kos tot die minimum beperk moet word en net by uitsondering ingeneem moet word.

 

Elizna het ook kortliks gesels oor voedsel-allergieë en ook gemeld dat daar ook iets soos 'n voedsel intolleransie bestaan, maar dat dit nie as 'n allergie geklassifiseer kan word nie. 'n Voedsel allergie kan die dood tot gevolg het aangesien die persoon se liggaam in 'n skoktoestand ingaan en asemhaling belemmer word.  Sy het die voedselsoorte wat hierdie tipe reaksie kan veroorsaak uitgelig.

 


Elke persoon behoort 'n rekord te neem van wat hy inneem oor 1 week, en as dit meer as 30 verskillende vars produkte bevat, eet so 'n persoon 'n gebalanseerde dieet, en behoort daar nie aanvullings nodig te wees om vitamine- en mineralevlakke te stabiliseer nie.

 

 



Posted on 22 July 2010

Saterdag, 17Julie, het die dames van Victoria-Wes die koue trotseer en ‘n Troetel-tee in die kerksaal bygewoon. Die tema was "Troetel jou vrouwees" en die oggend is begin met 'n praatjie oor hoe om jou vel teen die aanslae van die koue te troetel. Christa Bennet het die aanbieding gedoen.   
 

Daarna het Kobie Jeppe drie blomdemonstrasies gedoen oor hoe mens vinnig, en uit jou tuin, jou vriendin kan verras. In die eerste demonstrasie is hoofsaaklik suurlemoene en loof gebruik. Die tweede ruikertjie het heelwat lavender ingehad en die laaste demonstrasie was 'n "handsakkie". Twee oases is op mekaar geplaas (soos bakstene) en met groot blare oorgetrek. 'n Handvatsel is gevleg van sagte draad en.of lote en as handvatsel bo-oor geplaas. Dan is astertjies en loof aan die bokant ingedruk en so is 'n lieflike geskenk vir iemand, voltooi. 
 

Nadat die dames tee gedrink het, is Nelia Fourie aan die woord gestel. Sy het gesels oor hoe om jou vrouwees te koester/troetel. Aandag is aan elke letter van die woord KOESTER gegee.

 

K het gehandel oor die Kind in jou wat dalk jare terug seergekry het en hoe om dit te hanteer.
O het gehandel oor jou verhouding met jou OUERS en jou rol as ouer - dalk moet jy jou ouers oor iets vergewe of jou kinders om verskoning vra oor 'n fout wat jy gemaak het?
E staan vir EK: waar staan ek in my verhouding met die Here?
S is vir STER en skitter. As my verhouding met die Here reg is , is ek 'n ster wat skitter.
T beteken om TEVREDE te wees met die pad wat die Here met my stap/ tevrede om naby Hom te wees.
E staan vir "EK IS" soos wat die Woord na God verwys.
R verwys daarna dat Hy sy REGMATIGE plek in ons lewe moet inneem.
 

Dit was voorwaar 'n kosbare oggend en al die dames teenwoordig kon met genoeg pitkos huis toe gaan. 

Categories