VLV Gansbaai het geskiedenis gemaak toe hul Opvoedingsaand in die restaurant van Academia Hoërskool plaasgevind het. Dit het dan ook lede die geleentheid gebied om nader kennis te maak met Gansbaai se nuwe hoërskool.
Mnr Tommy Wilson, die nuwe skoolhoof sedert Julie 2010, is met tipiese VLV-warmte verwelkom. Hy is bederf met ‘n pakkie wat van ‘n potjie konfyt - vir die soet in die lewe, tot ‘n wyntjie - om te kan filosofeer, tot ‘n gebed vir ‘n onderwyser - om wysheid en geduld, bevat het. Hy vertel dan ook dat sy koms na Gansbaai werklik ‘n roeping is om Gansbaai Academia ‘n skool van uitnemendheid te maak.
Vervolgens kon die besoekers die pragtige sang o.a. “Unchained Melody” van die skoolkoor o.l.v Liezel Mostert geniet.
Anneri Harding-Male, die onderwyseres in Gasvryheidstudie, vertel hierna met groot geesdrif hoe die leerders in hierdie vak opgelei word om reeds op skoolvlak met die industrie kennis te maak Hul leer nie net om die kos voor te berei nie, maar word ook opgelei om ‘n aangename atmosfeer te skep op ‘n bekostigbare wyse en die geregte op ‘n smaakvolle wyse voor te sit. Die leerders kry geleentheid om dit wat hul in die teorie leer op hul restaurantaande, wat op ‘n Woensdagaande plaasvind, prakties toe te pas. Op ‘n toer deur die kombuis moes almal saamstem dat dié modern toegeruste kombuis elke sjef se droom is!
‘n Mens voel werklik dat met sulke entoesiastiese en toegewyde leerkragte elke leerling van Academia inderdaad die geleentheid kry om hul vlerke te sprei, soos die leuse van die skool lui. Belangrik is egter dat ‘n skool nie kan floreer as dit nie die ondersteuning van sy gemeenskap geniet nie.
Gansbaai Spar het vir heerlike nostalgie gesorg deur ‘n kosblikkie met gesonde lekkernye aan die besoekers te voorsien vir teetyd. Dankie Spar! Die besoekers is egter daaraan herinner dat ‘n mens se opvoeding ‘n lewensreis is en nie by die laaste pouse-toebroodjie ophou nie. Olga Swanepoel se kunsuitstalling kon hiervan getuig. Uit haar skoolhoujare en werk by kwekerye het die belangstelling in Botanie ontstaan. Daaruit het weer die begeerte ontstaan om dit kunstig uit te beeld. Nou hou sy haar sinvol besig met haar belangstellings saamgevat in haar skilderye!
Die aand is afgesluit met ‘n Gansbaai Geskiedenisles. Daar is vertel van die klok wat op die plaas, Moeraskloof, van oom Danie Fourie, (nou ‘n deel van Korsika) gelui is, as iemand iets in die plaaswinkel benodig het. Dié klok het die begin van die administratiewe deel van die byeenkoms aangedui!
Die volgende VLV byeenkoms vind op Dinsdag, 7 September 2010, in die Pretoriussaal plaas.

Tommy Wilson, Juanita Malan en Eliza de Lange, Opvoeding sameroepster

Anneri Harding-Male